Skip to content

Donderdagaand: ’n Ou brief krap ’n kraaines van familiegeheime oop

RSG NOU

Donderdagaand: ’n Ou brief krap ’n kraaines van familiegeheime oop

Donderdagaand: ’n Ou brief krap ’n kraaines van familiegeheime oop

In Kraaines, Madeleine Venter se radiodrama wat op Donderdag 26 November 2026 om 20:00 op RSG uitgesaai word, lei een ontdekking tot ’n soektog waarin die verlede telkens nuwe draaie met die hede loop.

Die storie
Vir Ronel begin alles wanneer sy haar oorlede pa se besittings oppak. Tussen dit wat agterbly, ontdek sy ’n brief wat jare tevore aan hom gestuur is. Die inhoud van die brief laat haar met vrae waarvoor sy nie meer by hom antwoorde kan kry nie. Sy besluit om self verder ondersoek in te stel.

Saam met haar gewese verloofde, Caleb, vertrek sy na die adres van waar die brief gestuur is. Wat daar op haar wag, is egter veel ingewikkelder as ’n eenvoudige verduideliking. Hoe meer sy probeer uitpluis, hoe dieper raak sy verstrengel in geheime en leuens wat oor geslagte heen bewaar is.

Caleb het intussen ook iets op die hart. Hoewel hy Ronel op haar soektog vergesel, hoop hy stilweg dat hul verhouding ’n tweede kans kan kry. Tussen die ontrafeling van ou familiegeskiedenisse moet daar dus ook ruimte gevind word vir twee mense se eie onafgehandelde verlede.

Die skrywer se inspirasie
Venter se inspirasie kom uit die raaisels wat families saam met hulle saamdra: vrae wat nooit gevra is nie, antwoorde wat verlore gegaan het en geheime wat saam met voorouers begrawe is. Ook in haar eie familie is daar onopgeloste sake wat waarskynlik altyd raaisels sal bly. Veral die invloed daarvan op volgende geslagte het haar belangstelling geprikkel.

Die Boereoorlog, Suid-Afrika se stryd om onafhanklikheid en die twee wêreldoorloë vorm deel van die historiese kompleksiteit waarna Venter in haar besinning oor familiegeheime verwys. Kraaines groei uit dié belangstelling in hoe mense se persoonlike geskiedenisse met groter gebeure verweef raak, en hoe die nagevolge lank daarna nog in verhoudings kan uitspeel.

Nota van die regisseur
Vir die regisseur, Johny Klein, was die balans tussen die komiese en die emosionele ’n belangrike deel van die regiebenadering. Die uiteenlopende karakters bring elkeen ’n eie geskiedenis, persoonlikheid en bagasie saam. Hul botsings en onverwagse reaksies gee kleur aan ’n verhaal wat ook ondersoek hoe mense, soms met goeie bedoelings, deur hul stilswye verdere seer veroorsaak.

Karin Wessels vertolk Ronel, met Kobus Venter as Caleb. Ria Smit is Netta, Kim Cloete speel Debbie, Elzette Maarschalk vertolk Karen, Izel Bezuidenhout is Lindie en Kevin Dimitri Smith speel Peet. Frikkie Wallis en Dipalesa Motau behartig die tegniese versorging. Saam skep die span deur stem, spel, atmosfeer en klank die deurmekaar familiewêreld waarin Ronel antwoorde probeer vind.

Met Kraaines word luisteraars genooi om saam aan die drade van ’n familie se verlede te torring. Die drama vra wat gebeur wanneer lojaliteit en waarheid bots, en of ’n ou vete noodwendig aan ’n volgende geslag oorgedra moet word. Tussen die humor en onthullings bly die moontlikheid van vergifnis en ’n nuwe begin binne bereik. Dit is ’n uitnodiging om te luister na dit wat families soms verswyg.

Voor: Karen Wessels en Johny Klein. Agter: Kim Cloete ,Ria Smit, Cobus Venter ,Izel Bezuidenhout, Kevin Smith en Elzette Maarschalk

Deel nou