22 Maart 2026 23:00
Die DA het by Hammanskraal, noord van Pretoria, betoog oor die voortslepende waterkrisis in Gauteng. Die party blameer ANC-geleide munisipaliteite vir die versuim om betroubare watervoorsiening te verskaf. Die DA het ook verwys na die beweerde rol van watertenkmafia's in die verergering van die situasie. Die betoging is gehou op Wêreld-waterdag, wat hernude aandag gevestig het op die dringende behoefte aan verantwoordbare bestuur en volhoubare toegang tot skoon water vir gemeenskappe wat geraak word.
Die ANC sê hulle oorweeg dit om 'n formele klag teen die Sunday Times by die Persombudsman in te dien nadat die publikasie beweer het dat die party die SAUK se besluit beïnvloed het om die program - Face the Nation - te staak. Die party sê die bewerings is ongegrond en die publikasie het hulle nie die geleentheid gegun om kommentaar te lewer voordat die berig gepubliseer is nie. Die ANC sê Sunday Times het die beginsels van billike, akkurate en gebalanseerde verslaggewing, oortree.
Die IVP-president, Velenkosini Hlabisa, sê sy party is gereed vir die komende munisipale verkiesing. Die datum sal na verwagting binnekort aangekondig word. Hlabisa het gepraat by die party se 51ste bestaansjaarvieringe in Bethal in Mpumalanga. Hy sê die hooffokus is om die party se ondersteuningsbasis in al die provinsies uit te brei.
België het hulde gebring aan die slagoffers van terreuraanvalle in Maart 2016 waartydens 32 mense dood en honderde gewond is. Dienste vir die tiende herdenking van die aanvalle is op verskeie plekke in Brussel gehou. Aanwesiges het 'n minuut stilte gehandhaaf en kranse gelê in 'n seremonie wat bygewoon is deur België se koning Philippe en koningin Mathilde, die eerste minister, Bart De Wever, en verskeie verteenwoordigers van die Europese Unie
Sportnuus:
MOTORFIETSE: Marco Bezzecchi van Aprilia het die eerste Brasiliaanse MotoGP in 22 jaar gewen, gevolg deur sy spanmaat, Jorge Martin. Dit was Bezzecchi se vierde agtereenvolgende oorwinning. Fabio Di Giannantonio van VR46 was derde. Die wedren is kort voor aanvangs onverwags van 31 tot 23 rondes verkort weens die agteruitgang van die baan. Die baan is vroeër die week oorstroom na swaar reën.
RUGBY: Die Stormers het die Dragons in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting in Kaapstad met 29-21 geklop. Die rustydtelling was 14-7 in die tuisspan se guns.
KRIEKET: Die Proteas het die vierde T20-wedstryd teen Nieu-Seeland in Wellington met 19 lopies gewen, om die reeks van vyf wedstryde twee elk gelyk te maak. Die Protea-vroue het egter vasgeval en met 6 paaltjies verloor teen die Nieu-Seelandse vrouespan.
FIETSRY: Die Suid-Afrikaanse span, Matthew Beers en Tristan Nortje, het die 2026 Cape Epic-bergfietstoer gewen. Nog 'n Suid-Afrikaner, Candice Lill, het saam met haar Switserse spanmaat, Alessandra Keller, die vroue-afdeling gewen.