Skip to content

Surita se groenboontjiebredie met ‘n slaai

RESEPTE

Surita - bredie

Surita se groenboontjiebredie met ‘n slaai

Surita Riffel

Bedien 4 - 6 persone

Bestanddele

1 kg stowe lamsvleis (lam- of skaapskenkels, bladtjops of skaapnek)
2 eetlepels olie van jou keuse
500 g gesnyde groenboontjies
6 aartappels, in kwarte gesny
1 groenerige tamatie (tamatie moenie ryp wees nie)
2 groot uie, grofweg opgekap
5 naeltjies
3 lourierblare
5 heel wonderpeperkorrels (Allspice)
5 ml (1 teelepel) fyn koljander
Sap van ‘n halwe suurlemoen
witpeper
sout na smaak
knippie neutmuskaat

Uie-en-komkommerslaai
1 groot ui, in dun ringe gesny
1 medium komkommer
3 eetlepels bruinasyn
1 eetlepel suiker
sout en witpeper na smaak
1 klein rissie, fyn opgesny (opsioneel)

Metode

Verhit die olie in ’n diep pot, en braai die uie, naeltjies, lourierblare en wonderpeperkorrels tot die uie sag en deurskynend is.
Voeg die vleis en koljander by, plaas die deksel op en kook tot die vleis verbruin en amper aan bodem van die pot vassit. Dit moenie aanbrand nie.
Voeg ‘n bietjie warm water by en skraap die vleis en uie van die bodem van pot af.
Kook vir omgeveer 30 minute.
Voeg die boontjies en tamatie by, en laat dit stadig prut oor lae hitte vir 30 minute tot die boontjies en vleis sag is.
Voeg die aartappels by, en kook tot heeltemal sag.
Skakel die plaat af.
Geur die bredie met sout en peper, wn roer versigtig deur sodat die aartappels nie breek nie.
Strooi ‘n knippie neutmuskaat oor en drup die suurlemoensap by.
Laat dit vir minstens ‘n uur staan voordat jy opskep. Die bredie smaak selfs lekkerder as dit die volgende dag geëet word.
Bedien met rys en beetslaai of ‘n eenvoudige uie-en-komkommerslaai.

Uie-en-komkommerslaai
Bedek die uie met kookwater, en laat dit daarin lê vir 10 minute.
Spoel dit goed af in koue water, en druk droog met kombuispapier.
Rasper die komkommer met skil en al, en druk meeste van die water uit.
Plaas dit saam met uie in ’n glasbak.
Voeg die asyn, suiker, sout, witpeper en rissie by.
Meng alles goed saam.

Wenke
Rasper 1 aartappel, en voeg dit in die pot wanneer jy die vleis by die uie voeg. Dit sal sag kook en aan die bredie ‘n natuurlike dik sous gee. Op hierdie manier hoef jy nie van souse en verdikkingsmiddels gebruik te maak nie. Hierdie souse bevat preserveermiddels en onnodige ekstra sout en ander poeiers wat soms die smaak van die bredie heeltemal verander.
Bredies is nie iets wat jy vinning kan maak nie. Dit moet verkieslik langsaam kook vir beste smaak en geur.

Deel nou

Deel nou