Skip to content

De Vos-juweeltjie nuwe oggendboekvoorlesing op RSG

RSG NOU

De Vos-juweeltjie nuwe oggendboekvoorlesing op RSG

2026-01-27

Die veelbekroonde skrywer, digter, oudonderwyser en oud-operasanger Philip de Vos se “Die jaar toe dit gemmerbier gereën het” is RSG se nuwe oggendboekvoorlesing.  Die leser is Tobie Cronjé.

De Vos, wat onlangs deur die ATKV bekroon is vir sy lewenswerk, het die boek opgedra aan die ontslape skrywer en uitgewer, Leon Rousseau, wat hom aangemoedig het om sy hand te waag aan versies en limerieke – en waarmee hy groot sukses behaal het.

“Die jaar toe dit gemmerbier gereën het” is reeds in 1977 geskryf, maar eers verlede jaar uitgegee.  Dit handel oor ‘n afgeleë, verlate dorp Moedverloor wat deur ‘n verskriklike droogte geteister word. Die enigste mense is die apteker, Koor Marais en sy gesin.  En dan daag Katisja daar op met haar klingelende armbande en haar rooi sambreel. Wat volg is fabelagtige avonture en skouspelagtige gebeure….

Dis ‘n bekoorlike boek wat deur almal geniet sal word wat die vermoë het om hulle verbeelding vrye teuels te gee.   Dit hanteer moeilike temas soos droogte en verlies op ‘n ligte, verfrissende manier en laat ‘n mens glo dat daar altyd hoop is. Dis ‘n sprankelende verhaal vir jonk én oud.

Die voorlesings op RSG begin Woensdag 28 Januarie, en word weeksdae om 10:45 uitgesaai.

 

 

 

 

 

Deel nou