Skip to content

Die ‘Agterplaas’ nog steeds vol humor en patos

RSG NOU

Die ‘Agterplaas’ nog steeds vol humor en patos

Die ‘Agterplaas’ nog steeds vol humor en patos

RSG herhaal eersdaags die gewilde tragikomediese middagvervolgverhaal, Agterplaas, deur die veelbekroonde dramaturg Charles J. Fourie.

Die vervolgverhaal is geskoei op Fourie se gelyknamige treffer-toneelstuk wat vir drie jaar lank tydens verskeie kunstefeeste landwyd opgevoer is. Dit is destyds vir altesame ses kykNET Fiësta-teaterpryse benoem en later ook as ‘n kort fliek vervaardig. Resensente was dit eens dat dit een van die hartroerendste dog vermaaklike toneelstukke is wat nog in Suid-Afrika op die planke gebring is.

In opdrag van RSG het Fourie later die storie uitgebou, nuwe karakters ingesluit en ‘n meesleurende dramareeks geskep wat luisteraars weer vir die volgende twee maande gaan boei.

“Waar ons destyds die stuk voor ‘n gehoor van hoogstens 300 gehoorlede in die buitelug kon opvoer, word dit deur veel meer mense op die draadloos ervaar en gehoor,” sê Fourie.

“Met die verwerking van die stuk vir radio as ‘n vervolgverhaal kon ek ook die gehele wêreld van die oorspronklike karakters verder verken, asook ‘n aantal nuwe karakters bybring.”

DIE STORIE

Die Conradie-gesin verloor hul huis weens pa Frans (Deon Lotz) se aanvanklike werkverlies en die gevolglike drankprobleem waarin hy en sy vrou, Sannie (Frieda van den Heever), mettertyd verstrengel raak.

Hulle beland noodgedwonge in Klets Vermeulen (Lindie Stander) se agterplaas waar hulle in ’n karavaan moet woon saam met hul twee kinders, wat nog albei op skool is.

Frans voer ’n opdraande stryd teen sy drankprobleem en steek alles vir Sannie weg.

Wanneer hul dogter, Rachel (Ilana Cilliers), verklaar dat sy nie meer by hulle gaan woon nie, en skool verlaat, word die gesin se lewens in ’n mallemeule van oorlewing en maatskaplike  verval gedompel. Rachel raak boonop betrokke by die ongure karakter Moolman (Leon Kruger) wat teer op arm meisies wat hy by sy nagklub laat werk.

Wanneer Rachel besluit om te vlug, besluit Moolman om haar te volg. Tydens ’n rusie word Moolman deur een van die verhaal se karakters geskiet.

Rachel neem die skuld op haarself, maar die moordsaak word uiteindelik deur die polisie ondersoek met tragiese gevolge vir almal.

Tussendeur is daar ander karakters soos Klets, wat daarvan droom om ‘n rol in ‘n bekende TV-sepie te vertolk en ‘n aktrise te word. Asook oom Blikkies (Neels Coetzee), wat ook in armoede gedompel is.

Agterplaas deur Charles J. Fourie sal luisteraars ontroer en ’n intieme blik bied op die lewens van daardie leë gesigte wat ‘n mens toenemend  in karavaanparke en op straat by die verkeerslig teëkom.

Die ander spelers is Martin Venter (Pieter), Carel Nel (Nico), Mariechen Vosloo (Alet), Geon Nel (Louw), Johann Nel (Pastoor) en Adri Vivier (Gerda).

Agterplaas is in Kaapstad opgeneem onder spelleiding van Joanie Combrink.  Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Agterplaas begin op Donderdag 25 Junie om 14:45 op RSG.

Agter vlnr: Johan Nel, Frieda van den Heever, Ilana Cilliers, Joanie Combrink, Martin Venter en Deon Lotz. Voor is Adri Vivier en Lindie Stander.

Deel nou