Noem die naam Magda van Biljon, en die meeste mense dink eerste aan die destydse kinderprogram op die Afrikaanse televisiekanaal, Wielie-Walie. Sy het immers dié program vir 14 jaar aangebied, in ‘n tyd toe daar nog net SAUK-televisie was. Maar dit was maar net een van báie dinge wat sy gedoen het.

Magda se loopbaan het as onderwyseres begin, en haar eerste pos was in Phalaborwa waar sy Afrikaans en Godsdiensonderrig aangebied het. Sy het ook die skoollied help skryf; operettes opgevoer en self aan ‘n musiekgroep behoort wat onder andere die musiekspel “Oklahoma” opgevoer het. Sy sê daardie drie jaar in die onderwys het van haar méns gemaak. Maar die kunste het geroep en sy gaan terug Universiteit toe om drama te studeer. En hier, by die Universiteit van Pretoria se dramadepartement, het sy vir Zack du Plessis ontmoet, die man met wie sy sou trou.
Madga vertel van hulle jare by Truk, haar tyd by die Truk Operakoor en haar liefde vir musiek. En toe kom televisie in 1976. Sy het ‘n oudisie gaan aflê, en die aanbieder geword van die kinderprogram Wielie Walie, dié program waarmee talle mense haar steeds verbind. Maar daar was baie, baie meer.

Talle rolle in rolprente en televisieprogramme; in radiodramas en vervolgverhale; op die verhoog in dramas en in eenvrouproduksies; as voorleser en regisseur; as oorklankspeler en -akteur.
Magda het vroeër vanjaar 80 geword en was tot kort onlangs nog as reggiseur by die oorklanking van Turkse telenovellas betrokke. Maar dit haar liefde vir musiek wat soos ‘n goue draad deur haar loopbaan strek – en waarmee sy steeds besig bly in musiek- en poësieprogramme.
Haar liefde vir haar man, wyle Zack du Plessis en hulle twee kinders is die ander goue draad deur haar lewe.

Sy vertel oor die inspirasie wat Zack was; die vreugde van haar kinders en kleinkinders in haar lewe is.
Sy sê die invloed uit haar vroeë kinderlewe soos ‘n oupa wat ‘n orrelis was; ouers wat koorgesing het; haar eie deelname aan konserte en blootstelling aan musiek en drama het haar help vorm – en byna haar loopbaan onafwendbaar gemaak. Sy sê as sy terugkyk weet sy : “dis jou pad, Magda!”
Die profieldokumentêr: Dis jou pad, Magda word op 20 Augustus om 20:00 op RSG uitgesaai. Die samesteller en aanbieder is Ina Strydom.