Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) van die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV is JJ Roberts met Bloed van my, wat op Donderdag 30 April uitsaai.
Broederlike liefde bots met ‘n noodlottige verlies en Simeon en Meyer moet hulle pad deur dié uitdaging vind. Dis ‘n storie met ‘n diep persoonlike oortuiging. Die skrywer het deur ‘n soortgelyke ervaring gegaan.
Casper Lourens, Wiandré du Plessis, Claudia Jones, Rico Immelman en Blyde Schoeman is die spelers onder spelleiding van Eddie de Jager.
Luister na Bloed van my, deur JJ Roberts, Donderdagaand 30 April in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.
Die storie
Meyer is Simeon se ouer broer. 18 Maande tevore is hul ouers in ’n motorongeluk dood en Meyer moes sy studies staak en as Simeon se voog optree terwyl hy sy laaste twee jaar op skool voltooi.
Simeon worstel met ’n skuldgevoel omdat hy ná ’n partytjie gearresteer is en sy ouers hom by die polisiestasie moes gaan haal, maar onderweg daarheen het hulle verongeluk. Dit lei tot allerlei probleme tussen die twee broers, totdat hulle openlik oor hulle ouers se dood praat en hulle verhouding herstel word.
Oor die skrywer – JJ Roberts
Roberts is gebore en getoë in Upington. Hy voltooi ‘n graad in onderwys by die NWU Potchefstroom en verhuis na Pretoria in 2021. Daar voltooi hy ‘n kursus in drama en word ‘n voltydse vryskut kunstenaar in die vermaaklikheidsbedryf.

JJ was al te sien in verskeie musiekblyspele en te hore in radiodramas, vervolgverhale asook die vervaardiger en aanbieder van Kortom op RSG. As skrywer het ‘n paar teaterstukke en kortverhale al uit sy pen gevloei.
“Ietsie interessant van my is ek is tans besig om ‘n persoonlike argief op te bou van teaterstukke, veral Afrikaanse teaterstukke. Ek vind hulle is uniek en die moeite werd om te bewaar. Ek bou ook ‘n persoonlike argief op bestaande uit potgooie van beide Afrikaanse en Engelse radiodrama ’s. Dit is vir my ‘n besonderse interessante medium wat grensverskuiwend is met klank en die verbeeldingswêreld wat saam met dit kom,” vertel JJ.
Nota van die regisseur
Eddie de Jager het die drama opgeneem en het so getrou as moontlik die teks benader, veral met die gebruik van musiek en byklanke wat die leefwêreld en emosies van die storie vasvat.
“Die drama volg ‘n duidelik struktuur wat die reis van elke karakter tot ‘n gevolgtrekking bring wat die luisteraar in staat sal stel om self afleidings te maak. Die universele temas soos verlies, volwassenheid en liefde laat jou met genoeg stof tot nadenke verweef in ‘n vermaaklike en opvoedkundige storie om dit ‘n wenteks te maak.”
Die spelers
Casper Lourens, Wiandré du Plessis, Claudia Jones, Rico Immelman en Blyde Schoeman is die spelers onder spelleiding van Eddie de Jager.
