Skip to content

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

RSG NOU

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

Liesbet bring 3 trein-entoesiaste bymekaar. Die akteur Deon Lotz wat as kelner in sy jongdae diens gedoen het op stoomtreine, die byklanke-operateur Frikkie Wallis wat langs ‘n treinspoor grootgeword het, en Leon van Nierop wat ook langs ‘n treinspoor mens geword het, en ‘n paar keer as kind nog in stoomlokomotiewe gery het. Hy het ook as student tussen Johannesburg en Stellenbosch op sulke treine in die vroeg sewentigs gery, ses mense per kompartement!

Met Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word die herinneringe van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld met ‘n stoomtrein na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is.

Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar.

Die idee is gebore toe Leon die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat hy in sy navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Leon van Nierop het ook die regie van Liesbet behartig en beskryf dit as die moeilikste tegniese produksie wat hy nog onderneem het.

Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.

Liesbet deur Leon van Nierop, Donderdagaand 25 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Liesbet neem die luisteraar terug na die dae van stoomtreine wanneer ‘n afgeleefde stoker en ‘n seun wat aan disleksie ly, wat in die middel van nêrens van ‘n bus afklim, saam in ‘n lokomotief na ‘n gerestoureerde stasie toe ry en mekaar inderwaarheid op sy eie manier terug restoureer na die lewe.

Ons stasies het meestal verval. Waar daar eers florerende, mooi stasies was waardeur reuse stoomlokomotiewe gery het, is daar deesdae maar min van oor. Maar wanneer ‘n nuwe toeristeroete uitgelê word, word die gesteelde spore vervang en word ‘n stoker opdrag gegee om ‘n legendariese ou lokomotief te restoureer. Terwyl Absalom dit doen, klim ‘n seun met ernstige leer- en leesprobleme (disleksie) van ‘n bus af. Hy kan saam met die stoker na sy eindbestemming in die lokomotief ry indien hy instem om die reuse-staalgedierte te was en te poleer. Gedurende hierdie reis het die twee ‘n onuitwisbare invloed op mekaar. Deon Lotz vertolk die rol van die stoker, en nuweling Rico Immelman is die seun. Dis ‘n unieke reis waar twee mense in 2025 terugreis na die verlede en weer mens word.

Van die regisseur – Leon van Nierop

Die idee is gebore toe ek die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat ek in my navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Boonop het ek die kans gehad om die gesoute Deon Lotz ‘n Noord-Kaapse aksent te gee, en hom teenoor die 17-jarige Rico Immelman van TV se Spooksoekers te plaas. Daardie kombinasie stemme het nuwe lewe aan die teks gegee. Ook Frikkie Wallis se trein-byklanke waarvan hy sommige self moes vervaardig. Ek het ook iemand ontmoet wat aan disleksie ly en eerstehands kon beskryf hoe moeilik dit is om die letters agtermekaar te plaas. Letters en spoorstawe ontmoet in hierdie drama.  

Deel nou