Skip to content

Donderdagaand: “Suikerbek” takel uitdagings vir studente

RSG NOU

Donderdagaand: "Suikerbek" takel uitdagings vir studente

2026-04-14

Die gesamentlike naaswenner van die 2025 RSG-radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV, Suikerbek deur Ingrid Penzhorn is op ʼn manier ʼn versuikerde weergawe van groot uitdagings en dilemmas vir jongmense.

Penzhorn skep ʼn studente-omgewing waar ‘n teksboodskap lei tot ‘n wedersydse ooreenkoms tussen ʼn mediese student en ʼn sakeman wat ‘n finansiële voordeel inhou. Soos die drama ontvou is dit egter nie die sakeman nie, maar ʼn professor in ‘n magtige posisie, wat onregmatig sy gesagsposisie misbruik. ‘n Storie so oud soos die berge, maar in ʼn moderne kampusstyl aangebied. 

Spelers soos Deon Lotz, Minke Marais, Conradie van Heerden, Karli Heine en André Weideman blink uit in Suikerbek deur Ingrid Penzhorn onder regie van Johan Rademan op RSG, Donderdagaand 16 April om 20h00.

Luister op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending

Die storie

Carolien is ’n mediese student wat finansieel noustrop trek. ’n Medestudent, Saskia, vertel haar hoe sy maklik geld kan verdien deur ’n gesellin vir ’n welgestelde man te wees.

Aanvanklik is sy baie bang, maar heel gou geniet sy Chris Claassen se geselskap en wat sy saam met hom beleef. Totdat sy ’n besope prof. Albertyn op ’n partytjie raakloop en hy hom onbetaamlik gedra.

Nadat sy afgestudeer is, sien sy en Josua in die koerant dat die professor van sy amp onthef is en dat die Gesondheidsberoepsraad begin ondersoek instel het na klagtes van vroulike pasiënte van dekades gelede.

Toe Josua vra of sy Chris Claassen weer sal wil sien, sê sy: “Miskien. Maar vir nou is jy al man wat ek naby my wil hê.”

Oor die skrywer – Ingrid Penzhorn

Ingrid is ‘n patoloog in Kaapstad woon. Sy het al drie keer vantevore aan die RSG-radiodramaskryfkompetisie deelgeneem. Sy was ’n finalis in 2010 met Snykuns, Jong Skrywer wenner (skrywer jonger as 30) in 2012 met Vlug, en algehele wenner in 2014 met Ontnugter. Sy het ook onlangs as speler betrokke geraak by die Kaapstadse amateurtoneelwêreld.

Regisseursvisie 

Johan Rademan beskou die inhoud van mede-2de pryswenner van die RSG-Radiodramaskryfkompetisie, Suikerbek deur Ingrid Penzhorn as ’n slim versuikerde weergawe van menslike uitgelewerdheid en uitbuiting met verskeie rooi ligte wat flikker tydens die drama.

Deel nou