Skip to content

Eitemal se klassieke “eselromannetjie” word ‘n RSG-vervolgverhaal vir die Pase

RSG NOU

Eitemal se klassieke “eselromannetjie” word ‘n RSG-vervolgverhaal vir die Pase

2026-03-02

‘n Waarlik unieke middagvervolgverhaal word eersdaags op RSG uitgesaai. Die veteraan regisseur, verwerker, en kenner van radioteater, Eben Cruywagen het Eitemal se eselromannetjie Jaffie vir die radio verwerk vir uitsending in die aanloop tot Paasfees. Fragmente van Jaffie het sedert 1953 in tydskrifte soos die Huisgenoot verskyn, en die volledige eselromannetjie is in 1957 deur AA Balkema gepubliseer. Eitemal (Prof. W J du P Erlank) was professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n bekende digter, dramaturg en ook vertaler van onder meer Shakespeare en Goethe se werk in Afrikaans. Jaffie was in 1957 ‘n sterk aanspraakmaker op die Hertzogprys, en in 1959 is die Afrikaanse Letterkundige Vereniging se prys vir jonger prosa aan Eitemal toegeken. “Die gedagte om Jaffie vir die radio te verwerk, het letterlik soos streelsagte konjak ’n goeie twee dekades – dalk meer! – in my onderbewussyn verouder, voordat die geleentheid hom uiteindelik voorgedoen het om Eitemal se goue woorde te verklank,” sê Cruywagen. Hy sê hoewel die roman in die tweede hoofstuk die Kersverhaal as agtergrond van die handelingsverloop aanwend en die slothoofstuk weer op Kersdag afspeel, “was die grootste indruk van die verhaal sedert my eerste kennismaking daarmee juis die unieke oordrag van die Christus-verhaal vanuit Oom Vaaltyn, die afgeleefde eseltjie, se eenvoudige begrip daarvan.” Cruywagen sê dit was vir hom logies om die verhaal te verwerk vir die Pase, en so die chronologiese verloop van die Christusverhaal vanaf die geboorte in die nederige stal in Betlehem tot by die kruisiging op Golgota te vertel. Die kern van die verhaal is die vertelling deur die ou eseltjie, Vaaltyn – meesterlik vertolk deur Tobie Cronjé. Hy gesels deurlopend met die jong eseltjie Jaffie, vertolk deur Luan Jacobs. Vaaltyn vertel vir Jaffie die geskiedenis van wat hy noem die eseldiere, sodat Jaffie kan weet waar hy vandaan kom, en watter rol sy voorgeslagte in die geskiedenis gespeel het van die geboorte van Christus tot en met die kruisiging. Cruywagen sê een van die uitdagings met die verwerking was om ‘n eensydige vertelling die hoof te bied, dus is die jong Jaffie ingespan as klankbord en vraesteller. Ander karakters kom by wyse van terugflitse aan die woord wat dan Vaaltyn se vertelling vervang deur dialoog tussen die karakters van wie hy besig was om te vertel. Ander akteurs wat gehoor kan word is Andre Stolz, Bertha le Roux-Wahl, Rika Sennett, Ria Smit, Donovan Pietersen, Izel Bezuidenhout, Dihan Keun, Renske Jacobs en JJ Roberts. Die regie is behartig deur Ina Strydom. “Dit was vir my baie belangrik om reg te laat geskied aan Eben se uitmuntende verwerking, en ook aan die eenvoud en die egtheid van die verhaal. Die teks het my laat dink aan ‘n waterverfskildery : subtiele, gedempte kleure, fyn lyne en ‘n geheelindruk van skoonheid. Ek is dus báie dankbaar dat Tobie beskikbaar was vir die rol. Ek kan aan niemand anders dink wat dit presies só sou kon weergee nie. Elkeen van die ander spelers is met die hand uitgesoek om dié waterverfskildery-beeld in klank om te sit. En die byklanke vir die verhaal is spesiaal vervaardig deur die gesoute klankman Frik Wallis. Ek is baie dank verskuldig aan elkeen wat betrokke was, en vir die reuse voorreg om die regie te kon doen” sê Strydom. Jaffie, ‘n Eselromannetjie deur Eitemal, word vanaf 2 Maart weeksmiddae om 14:40 op RSG uitgesaai. Al die episodes sal ook op potgooi beskikbaar wees by www.rsg.co.za, en ook op Spotify.

Deel nou