Skip to content

Hartversaking tref een uit elke ses mense

RSG NOU

Hartversaking tref een uit elke ses mense

2025-08-27

Hartversaking beteken letterlik dat jou hart versaak en nie voldoende bloed uit jou hart pomp sodat jou liggaam en brein goed kan funksioneer nie.

Luister hier na die program: https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-27-augustus-2025

‘n Gesonde en sterk hart pomp sowat 60 tot 65% van die bloed met elke sametrekking/pompslag/klopslag uit jou linkerventrikel na jou liggaam en jou brein sodat al jou organe en weefsel voldoende suurstof kry.

Maar ‘n hart in versaking funksioneer nie optimaal nie.

Daar is twee hoofsoorte hartversaking, verduidelik dr Sumanth Karamchand van die Cape Town AF Center in Panorama Mediclinic.
1. As jou hart minder as 50% van die bloed uit jou linkerventrikel pomp, word dit hartversaking met ‘n verminderde uitwerpingsfraksie genoem. Die brein en res van die liggaam kry dan minder suurstof.
2. Dan is daar ‘n tweede hoofgroep waar die hart steeds 60 tot 65% bloed uitpomp, maar die hartspier is hard, en dik en styf. Dit is hartversaking met ‘n normale uitwerpingsfraksie. Maar omdat die hart styf is, verplaas dit sy drukking na die longe. Die hoofsimptoom is dan kortasemheid en hulle het nie meer genoeg asem om die aktiwiteite te doen wat hulle voorheen kon doen nie.

Hartversaking is dus ‘n kliniese sindroom met die hoofsimptoom kortasemheid en aktiwiteit-inkorting.

Die oorsaak van hartversaking kom van een van die dele van die hart:
1. een of meer van die hartkleppe is foutief of lek, moontlik aangebore of as gevolg van ‘n streptokokkus infeksie. Die hart kan vergroot met hartbersaking.
2. of die hartspier is verswak (kardiomiopatie) waar die hart dikwels vergroot
-wat geneties kan wees,
-of dit kan volg na chemoterapie,
-of middels geneem het wat die spierselle beskadig,
-of as ‘n vorige virus-infeksie die hartspier beskadig het (miokarditis)
-of (en dit is een die hoofoorsake van hartspierskade) as die kroon-are vernou is (aterosklerose) of die persoon reeds ‘n hartaanval gehad het.
-Maar ‘n vinnige hartspoed (tagikardie) of Atriale fibrillasie kan ook die hartspier beskadig.
-Slaap-apnee kan ook die hartspier beskadig
3. en in Suid-Afika is die hoofoorsaak van hartversaking inderdaad hoë bloeddruk wat nie goed beheer word nie. Dit is ‘n stil moordenaar omdat dit tot in ‘n baie laat stadium geen simptome het nie. Onbeheerde hipertensie laat die ventrikelspier verdik, terwyl dit ook die klein bloedvaatjies in die brein, hart, niere en ander organe oor ‘n tyd beskadig. Dit kan dus tot albei soorte hartversaking lei met erge kortasemheid.
4. In peri-partum kardiomiopatie word swanger vroue se harte laat in swangerskap baie siek. Die oorsaak is geneties of die hormone wat geproduseer word in swangerskap. Die vroue herstel gewoonlik goed, maar het behandeling nodig.

‘n Hart in hartversaking klop vinniger as ‘n gesonde hart. As die hart begin swaar trek weens een van die oorsake hierbo genoem, begin die hart vinniger saamtrek in ‘n poging om meer bloed uit te pomp. Dit help op die korttermyn, maar in die langtermyn kan die hart dit nie volhou nie.

‘n Vinnige hartklop is self ‘n teken dat die hart siek is. Veral mense ouer as 60 jaar, wat al ‘n tyd lank hipertensie het, of ‘n beskadigde hartspier, kan ‘n hartritmestoornis soos atriale fibrillasie ontwikkel en dié hoë en onreelmatige hartklop kan dan ook weer die hartspier beskadig – die hart raak uitgeput soos ‘n atleet wat 20 100m wedlope onmiddellik opeenvolgens doen. Gelukkig kan dié hartritmestoornis met medikasie, maar veral met ‘n ablasie, baie goed behandel word en kan die hartspierskade omgekeer word.

As iemand dus in hartversaking is, moet die kardioloog kyk
1. is hipertensie goed beheer
2. is die kroon-are oop
3. is daar infeksie op die hartkleppe
4. Is daar hartritmedefekte – veral dié wat bokant die ventrikels ontstaan soos atriale fibrillasie – wat hartversaking kan veroorsaak. Atriale fibrillasie lei tot ‘n chaotiese, onreelmatige vinnige hartklop van tot 300 tot 600 slae per minuut wat die ventrikels totaal uitput. Dit beskadig die spierselle op ‘n sellulêre vlak deur van die kalsiumkanale in die selle te beskadig en die hartspier te verswak. As die hartritmestoornis doeltreffend behandel word met middels of ‘n ablasie, kan die hartspier mettertyd herstel.

Dit is belangrik om die oorsaak vas te stel, sodat die oorsaak eerste behandel kan word. En dan die oorblywende hartversaking.

Ons kyk ook na Pulmonale Hipertensie

Dit gebeur as die drukking in die longe so groot raak dat dit die regterkant van die hart verswak.
Dit is moeilik om te behandel.

Hartversaking deel 2

Hoekom en hoe bou vog in die longe op met hartversaking? Hoe kan ‘n middel soos Ozempic help in die behandeling van hartversaking? Hoe klink hartversaking? In die tweede program in die reeks oor hartversaking, praat ons oor hierdie en ander aspekte.

Deel nou