Luister weer na Die Besoeker deur Herman Cronjé, ‘n 2024 finalis van die RSG-Radiodramaskryfkompetisie.
Die Besoeker is ’n aangrypende drama wat jou deur tyd sleep in ’n wêreld van familiegeheime, onverwerkte pyn, en ‘n desperate soeke na verlossing. Die drama bevraagteken die mure wat families in hul huise bou – nie net van baksteen nie, maar van duistere geheime, swaar swye en genadelose verwerping.
Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert (debuteer), en Johny Klein het die regie behartig. Beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.
Die storie
‘n Dertien jarige dogtertjie is dood in ‘n tref en trap ongeluk in die 1990’s. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaas gevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel (James Borthwick) neem sy eie lewe en Truida (Rina Nienaber) word jare later gediagnoseer met ‘n verdoemende geestesiekte.
Marko (Johan Joubert), hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ‘n vriend, JP (vertolk deur Donovan Pietersen),‘n toegeboude agterdeur in hul kombuis ontdek.
Hierdie deur laat hom terug gaan in tyd en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal in die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir dogtertjie se misterieuse dood.
Die drama weef deur tyd en werklikheid, en laat jou vra: Wat sou jy verander as jy een oomblik uit die verlede kon herleef? Moet mens ou deure oopsluit om die lig van die waarheid te vind, of moet mens die verlede se grimmige skaduwees in die donker los?
Oor die skrywer – Herman Cronjé
Herman Cronjé is ’n siviele ingenieur met een voet in die Kaap en die ander in Riyadh in Saoedi -Arabië. Die Besoeker, ‘n aangrypende psigologiese riller, is sy derde radiodrama en weerspieël sy talent vir rou emosionele en draaiende narratiewe.
In 2018 verower hy die tweede plek in die RSG Radiodramaskryfkompetisie met sy debuut-drama, Die Selle, ‘n wetenskapsfiksie klug, gevolg deur Die Ontheemdes, aangewys as ’n finalis in die 2019 kompetisie.
