‘n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hul omstandighede.
Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om uit te sterf en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef.
Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke soos ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed; wie is nou eintlik die vyand – Vismot, die grommige-gogga wat aan alles knaag, óf die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie.
En die belangrikste – is die gras werklik groener aan die ander kant…
Dié drama is deur Karli Heine geskep en vir radio verwerk, waar die musiek en ’n paar kern-karakters ontstaan het uit die oorspronklike kabaret. “Die Potplant: ’n Tragedie” is vir die eerste keer in 2024 opgevoer by KKNK se Blitsteater.

Karli vertel, “die idee het begin toe dit vreemd voel om ’n boom-karakter binnenshuis te plaas. Wat het plant-gedagtes en staan onder dak?”
Die spelers is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Met musiek deur Grethe van der Merwe en Frieda van den Heever as die regisseur in die ateljee.
Die Potplant deur Karli Hiene, Donderdagaand 18 Junie in Radioteater om 10 oor 9 op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.
Jy hoor kabaret op radio.