Die komponis en trekklavierspeler Nico Carstens, bekend om die internasionale treffer Zambezi, sou vanjaar ‘n 100 jaar oud wees. Dis ook 10 jaar sedert sy afsterwe op 1 November 2016.
Carstens is een van die kunstenaars op wie die kollig sal val in RSG se splinternuwe dokumentêre musiekreeks, Hoor, hoor.
Die episodes word elke Donderdagaand om 20:30 uitgesaai, maar weens die musiekregte is daar géén potgooie beskikbaar en moet luisteraars weekliks inskakel vir hierdie reis deur van Afrikaanse se voorste musiekmakers.
23 Julie
Fritz Klaaste gaan op Donderdag 23 Julie deur Jennifer Jones se musiekskatkis gaan sif.
Jennifer Jones se loopbaan strek oor meer as 30 jaar in Suid Afrika asook internationaal. Sy was vir ‘n Grammy Toekenning genomineer vir haar liedjie, Mandela, Father of the Nation en het ‘n Kora-, NTVA Stone- en Sedibeng Burgemeesters toekennings ontvang.
In 1997 was sy die eerste Suid Afrikaanse kunstenaar wat deur die internasionale platemaatskappy, Sony Music, gekontrakteer was toe hulle hul deure in RSA geopen het. Haar snit, “I Don’t Mind” wat deur die platemaatskappy vrygestel is, het met Tony Braxton se Unbreak My Heart” gekompeteer vir die topposisie in die SA Top 40.
Sy was die openings- en sluitingskunstenaar vir die 1995 Rugby Wereld Beker waar sy die snit, “Where the world Began” uitgevoer het. Jennifer was ook die openingskunstenaar tydens Michael Jackson se toer in Suid-Afrika, en het die verhoog gedeel met talle internasionale kunstenaars soos Dionne Warwick, Tina Turner, M People, Dr Alban, Hugh Masakela en ander.
Jennifer is hoogs ervare as ‘n musiektalentbeoordeelaar en was betrokke in verskeie nasionale talentkompitisies. Sy was betrokke by produksies soos Skouspel, Kaapse Jol, Skouspel Plus en is ook deel van die span van die welbekende jaarlikse blyspel Moments Spectacular wat in Bloemfontein plaasvind in samewerking met die alombekende vervaardiger Willie Venter.
Sy het ook vir Staatspresidente, Nelson Mandela en Thabo Mbeki opgetree tydens hul inhuldigingsgeleenthede, asook vir Mandela by sewe van sy verjaardae tydens sy ampstermyn en daarna.
Fritz Klaaste stel vir Jennifer voor in Hoor Hoor, op Donderdag 23 Julie, om 20:30.

30 Julie
Die liedjieskrywer en klavierspeler Coenie de Villiers, skepper van die immergroen Karoonag, sal in Oktober vanjaar sy sewentigste verjaardag vier. Op Donderdag 30 Julie sal RSG se programbestuurder, Kobus Burger, De Villiers se tydslose skeppings in Hoor, hoor laat skitter.

6 Augustus
Fran-Rico Lucas gaan ‘n week later die loopbaan van Dollar Brand oftewel Abdullah Ibrahim, wat as pianis die tydlose jazzlied Mannenberg gekomponeer het, op RSG voorop stel. Ibrahim is onlangs op 91-jarige ouderdom oorlede.

13 Augustus
Die twee countrymusiek-legendes Billy Forest en Barbara Ray het elkeen ‘n gerf prag-treffers opgeneem en Jacques Arendt sal op Donderdag 13 Augusts hul musiek in ‘n spesiale dokkie-program die praatwerk laat doen.

20 Augustus
Op Donderdag 20 Augustus gaan Carla Mackenzie deur die treffers van Brasse Vannie Kaap (BVK) werk en na die draadloos bring. Dié hiphop-groep het ook in die buiteland opslae gemaak en by internasionale musiekfeeste opgetree.

27 Augustus
Die Vastrap-aanbieder Willem Viljoen sal op Donderdag 27 Augustus die komponis van musiekstukke soos die Klokkiewals, Nico Carstens, in ‘n half uur lange dokkie-program huldig.

4 September
‘n Week later is dit Sue Pyler-Slabbert se beurt met die treffers en DJ-mengsels van die bekroonde musikant, liedjieskrywer en radio-omroeper DJ Jazzy D, bekend om liedjies soos Lady Soul.

10 September
Kobus Burger is op Donderdag 10 September terug met ‘n program oor die musiek en lewe van die aktrise, kabaretsangeres en liedjieskrywer Amanda Strydom. “Miss Mandy”, soos sy ook bekend geword het, vier ook vanjaar haar 70ste verjaardag.

17 September
Die Hoor, hoor-reeks word op Donderdag 17 September afgesluit met Haidee Muller-Isaacs wat luister na die aktrise, kabaretsangeres en sakevrou Natalia da Rocha se musieknalatenskap. Sy het reeds in 1984 opslae gemaak toe sy die temalied van Jans Rautenbach se ikoniese fliek, Broer Matie, gesing het.

Reeds uitgesaai
2 Julie
Hierdie reeks debuteer op Donderdag 2 Julie wanneer dit om 20:30 begin met ‘n program oor die musiek en lewe van Carike Keuzenkamp met Ettienne Ludick as die samesteller van dié episode.

9 Julie
Op 9 Julie laat val Veronique van Heyningen-Pieterse die soeklig op die skeppings en werk van Les Javan, wat deesdae ook as klankbaankomponis uitblink.
In episode twee van – Hoor Hoor! – RSG se nuwe musiekreeks leer ons LES JAVAN – ’n kunstenaar van absolute, onwrikbare eerlikheid – beter ken. Ons stap ’n pad saam met hom deur die donkerste strate van die hart, om te hoor hoe rou pyn omskep word in monumente van troos en uiteindelik hoop.

16 Julie
Willem Pelser kyk na die musiek en loopbaan van Bles Bridges.
Bles Bridges was een van Suid-Afrika se mees kommersieel suksesvolle en geliefde tweetalige pop- en minnesangers. Met sy kragtige stem, kenmerkende verhoogpakke en die tradisie om rose aan vroue in die gehoor uit te deel, het hy ‘n onuitwisbare merk op die plaaslike musiekbedryf gelaat.
Gebore as Lawrence John Gabriel Bridges – op 22 Julie 1946 op Viljoenskroon in die Noord-Vrystaat – het sy oupa hom van kleins af “Bles” genoem weens sy dun hare. Die naam het later sy amptelike verhoognaam geword; welige bos hare en al! Bles het aan die Hoërskool Vereeniging gematrikuleer en daarna ‘n diploma as gereedskapmaker voltooi.
Sy solo-deurbraak kom in 1982 met die album Onbekende Weermagman. Sy opvolgalbum, Bles (1984), behaal binne ‘n maand goue status en het die ikoniese treffer “Maggie” ingesluit. Van sy bekendste liedjies sluit in “Ruiter van die Windjie”, “Op die vlerk van ‘n spierwit duif”, en “I Am the Eagle, You’re the Wind”.
In November 1987 word hy die eerste en enigste kunstenaar wat die massiewe Sun City Superbowl vyf keer in een naweek uitverkoop het. Hy het selfs groter gehore as Frank Sinatra gelok.
Bles Bridges is op 24 Maart 2000 in die ouderdom van 53 in ‘n tragiese motorongeluk oorlede. Hy was op pad terug na ‘n optrede toe hy beheer oor sy bakkie naby Bloemhof verloor het. Meer as 15 000 roubeklaers het sy begrafnis bygewoon om hul laaste eer aan hierdie legendariese sanger te bewys.
Teen die tyd van sy afsterwe het hy reeds meer as 2,6 miljoen albums verkoop, ‘n getal wat later tot oor die 3 miljoen gestyg het.
Bles het sy vrou, Leonie (wat baie van sy liedjies geskryf het), ‘n dogter, Sunette en seun, Victor agter gelaat.
