Welkom by RSG se Matriekhersieningsreeks, in samewerking met die Skoleondersteuningsentrum.
Die eindeksamen is om die draai, die druk begin toeneem en die ure voel net té min, maar matriekleerders hoef dit nie alleen te hanteer nie. Vanaf Dinsdag, 4 Augustus, bied RSG vanjaar weer ’n kragtige matriekhersienings-reeks aan, in vennootskap met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Wolkskool, om leerders te help om slim te leer en met selfvertroue te presteer.
Agt kernvakke word oor ‘n tydperk van tien weke hersien. Ervare onderwysers verduidelik moeilike begrippe prakties, deel kernkennis en wys leerders hoe om hul voorbereiding vir elke vraestel doelgerig te struktureer.
Hierdie kenners verstaan die kurrikulum, die eksamenvereistes en die uitdagings waarmee matriekleerders daagliks worstel. Die reeks is dan ook ontwerp om leerders te help om met begrip te leer en die eksamenlokaal vol selfvertroue binne te stap.
Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars – insluitend Robbie Wessels, Demi Lee Moore, Groothond van Van Pletzen, Jack Parow en meer – sluit ook by die program aan om leerders te motiveer. Die toppresteerders van 2025 deel ook húlle beste wenke.
Die vakke wat hersien word sluit in: Fisika, Chemie, Afrikaans, Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Rekeningkunde, Engels en Besigheidstudies.
RSG se Sakebestuurder, Louise Jooste, sê, “Ons is trots om saam met Solidariteit SOS en Wolkskool ’n program aan te bied wat werklik ’n verskil maak. Matriek is ’n groot mylpaal, en met praktiese wenke, duidelike leiding en die regte ondersteuning kan elke leerder met selfvertroue presteer. Hierdie reeks is meer as hersiening; dit is toerusting vir die leiers van môre. As jy inskakel, is jy nie net besig om te leer nie, jy bou aan jou toekoms.”
Kompas, RSG se jeugprogram, saai die hersieningsreeks vanaf 4 Augustus elke Dinsdagaand tussen 19:30 en 20:00 uit. Alle matriekleerders is welkom om saam te leer, te oefen en te groei.
Vir ekstra lesse, werkkaarte, assesserings en akademiese ondersteuning, besoek wolkskool.co.za.
Vat hom, matrieks! RSG is saam met julle tot by die eindstreep vir uitstekende uitslae sonder grense.
Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.
MEER OOR RSG:
RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SAUK. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.
Hier vind jy al die potgooie van ons lesaanbiedings sodat jy enige tyd weer daarna kan luister.
Raadpleeg die uitsaairooster om te sien wanneer jou vak aan die beurt is en skakel in vir praktiese hersiening en eksamenwenke. Vir nóg meer ondersteuning, besoek gerus https://www.wolkskool.co.za/ waar jy toegang kry tot uitgebreide hulpbronne vir al jou matriekvakke.
| Datum | Vak | Potgooi |
| Dinsdag 4 Augustus | Fisika | https://www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/kompas-hersiening-fisika/ |
| Dinsdag 11 Augustus | Chemie | https://www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/kompas-hersiening-chemie/ |
| Donderdag 18 Augustus | Afrikaans vraestel 1 en 3 | https://omny.fm/shows/kompas/kompas-hersiening-afrikaans-huistaal |
| Dinsdag 25 Augustus | Wiskunde vraestel 1 | https://omny.fm/shows/kompas/kompas-hersiening-wiskunde-vraestel-1 |
| Dinsdag 1 September | Afrikaans vraestel 2 | https://omny.fm/shows/kompas/kompas-hersiening-afrikaans-vraestel-2 |
| Dinsdag 8 September | Rekeningkunde | https://www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/kompas-hersiening-rekeningkunde-vraestel-1/ |
| Dinsdag 15 September | Wiskundige gelletterdheid | |
| Dinsdag 22 September | Wiskunde vraestel 2 | |
| Dinsdag 29 September | Engels vraestel 1 en 2 | |
| Dinsdag 6 Oktober | Besigheidstudies |
Die eksamen begin op 13 Oktober.