‘n Storieskatkis propvol interessante lewensverhale wat aan die hand van sprankelende treffers vertel word, wag van Sondag 4 Oktober op RSG se luisteraars.
Die sewende reeks van Die Midas van Musiek begin op Sondag 4 Oktober om 13:00, met RSG se programbestuurder, Kobus Burger, wat weer agter die mikrofoon sal inskuif.
In hierdie splinternuwe reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos The Shadows, Marilyn Monroe, Jennifer Rush, Crowded House, Dave Brubeck, Rod Stewart en Slim Whitman gehoor word. Whitman, byvoorbeeld, is in verskeie peilings as die top- internasionale kunstenaar aangewys, maar sedert sy afsterwe in 2013 is hy deur musiekliefhebbers en luisteraars wêreldwyd vergeet.
In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.
Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.
Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is ‘n voortsetting van die eerste, gewilde reeks wat in 2018 afgeskop het.
Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.
“Dit is altyd ‘n riem onder die hart as luisteraars my weekliks bedank vir die storie wat ek vertel,” sê Kobus.
“Die Midas van Musiek was uit die staanspoor veel meer as net ‘n musiekprogram. Daar word diep gekrap en nagevors om die kunstenaar agter die treffers se storie en nalantenskap tot sy reg te laat kom. Op die koop toe is daar soveel interessanthede rondom allergeliefde liedjies wat nié bekend is. En dis hier waar elke Midas-program sy goue randjie kry.”
Luister van Sondag 4 Oktober 2026, elke Sondagmiddag om 13:00 direk ná U Eie Keuse, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.