Op Donderdag 17 September begin ‘n nuwe laataandboekvoorlesing op RSG met Susanne Beyers wat P.P. Fourie se jongste boek, Die dood van Rachel April voorlees.
Dit is Fourie se tweede misdaadriller ná Ons Skulde wat in 2023 verskyn het. Sy eerste roman, ’n Hart is so groot soos ’n vuis (2021) is as nommer 83 op Rapport se lys van die 100 beste boeke in Afrikaans aangewys.
Die dood van Rachel April is ’n verhaal wat ’n mens reeds in die eerste hoofstuk met sy intrige aangryp en jou end-uit laat saam wonder waarom Rachel April, ’n joernalis en meestersgraadstudent in Bloemfontein, se lewe kortgeknip is.
Rachel se lyk word gevind met ’n eienaardige steekwond in haar hart. Haar vriendin en medestudent Lesea du Plessis belowe Rachel se dogtertjie dat sy sal uitvind wie haar ma vermoor het. Lesea begin dus op haar eie ondersoek instel, en raak gou verstrengel in ’n historiese raaisel wat ook háár lewe in gevaar stel.
Die boek slaag beslis as misdaadroman. Maar die skrywer sluit ook allerlei ander temas by die boeiende storielyn in: daar is fassinerende brokkies Vryheidsoorlog-geskiedenis, verlore Van Gogh-skilderye, ’n speurtog deur Europa én die vraag na waar ’n mens nou eintlik in die huidige Suid-Afrika hoort as jou velkleur en kulturele agtergrond nie heeltemal strook nie. Lesea is ’n bruin vrou wat in ’n wit gesin grootgeword het, en haar hele lewe lank onseker is oor waar sy inpas. Uiteindelik poog Lesea om meer as net Rachel se moord op te los – sy probeer die geheim oor haar eie herkoms ontrafel.
P.P. Fourie se deeglike navorsing en meesterlike vermoë om werklike historiese gegewens met fiksie te verweef sorg vir ’n uiters geloofwaardige en meesleurende vertelling. Hierdie boek herinner ‘n mens daaraan dat die koloniale gebeure van 125 jaar gelede, sowel as die Apartheidsera, steeds ’n impak op die hede het. En ook dat elke familie die wandade in sy eie verlede probeer draagliker maak deur die manier waarop dié verhale deur generasies heen oorvertel word – soms deur die sondes van die vaders te versag, of dit selfs te verswyg.
Fourie is ’n dosent in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
Skakel vanaf 17 September op weeksaande net ná die 21:00-nuus in vir die nuwe laataandboekvoorlesing op RSG. Geen potgooie is beskikbaar nie.
Dit blyk dat Rachel tydens ’n internskap by die Anglo-Boereoorlogmuseum iets belangriks ontdek het. Maar wat kan dit wees?
Gou raak dit duidelik iemand wil keer dat Lesea en haar aanneemboetie die waarheid oor Rachel se moord ontbloot. En nou is hulle self in doodsgevaar.