Skip to content

O Vloek! Om te swets of nie

RSG NOU

O Vloek! Om te swets of nie

2026-03-09


Vloek perfeksioniste meer as mense vir wie die lewe maar net altyd ‘n lied is? Vloek mans meer as vroue? Gebruik sommige mense vloekwoorde as ‘n manier om sosiaal aanvaarbaar te wees, en ander dit onbewustelik om tameletjies in die lewe beter te probeer hanteer? Wat presies gebeur in ons breine wanneer ons vloek? Kan vloek pyn- en stresverligting bring – maar méér so vir mense wat nie gereeld vloek nie? Hoekom is vloek so taboe? En is daar ook kragwoorde in Die Bybel?

O Vloek! Om te swets of nie? DOKUMENTÊR 12 Maart 2026 DEUR: Esté de Klerk

Marelize en Heidi Horn

“Iemand het eendag gesê ‘n vloekwoord is ‘n plekhouer vir iets wat jy nie ‘n beskrywing voor het nie en ek dink dit het baie te doen met daai absolute: ‘Wat sê ek?’” Só sê die Namibiër, Heidi Horn, wat ses jaar gelede saam met haar dogter, Marelize, oornag ‘n internet-sensasie geword het omdat sy een vloekword gesê het wat op ‘n skreeusnaakse video vasgelê is wat soos ‘n warrelwind in Namibië en Suid-Afrika versprei het.

Deon Meyer

Die skrywer, Deon Meyer, sê mense het op dié manier met Heidi geïdentifiseer omdat dit so eg menslik was. “Ons het almal sulke oomblikke, ons het almal sulke mense in ons lewens, ons het almal sulke kinders wat iets aanvang wat jy niks anders kan sê nie, want verdomp gaan net nie in daardie oomblik die ding doen nie, gaan net nie die emosie weergee nie, gaan net nie die berisping wees wat jy nodig het vir daai oomblik nie.”

Vloek jy soms, nooit, of is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen sekere mense is, met ander woorde, jy neem die konteks en omstandighede waarin jy verkeer in ag? Of rol daardie kraswoorde sommer so van jou tong af en jy dink: ag basta met die mense wat aanstoot neem met hoe jy praat? Is dit vir jou lekker om te vloek en het jy al opgelet hoe dit jou laat voel wanneer jy daardie kraswoord losgelaat het?

Elmarie Claassens

Vloek vervul verskillende funksies en kan wel ‘n katarsis by ons ontketen wanneer ons wel die dag ‘n kraswoord sê – dit kan verligting bring. Die rede? Dit is omdat vloekwoorde anders as gewone woorde in die brein geprosesseer word, verduidelik die kliniese sielkundige, Elmarie Claassens. “Vloekwoorde is soos ‘n alarmknoppie in die brein – jy druk dit en die hele stelsel skrik wakker. Gewone taal is meer soos ‘n rustige epos – jy het tyd om dit te redigeer en jy kan dink of jy nou vir iemand dit wil sê of dat wil sê, en jy kan teruggaan soontoe. Maar vloekwoorde is meer soos ‘n whatsapp boodskap in hoofletters met rooi uitroeptekens. Die vloekwoord glip uit soos ‘n werknemer wat in die kantoor instorm en sê: ‘Ek kan nie meer nie!’ Dit glip uit en daar is juis nie tyd nie – omdat dit so vinnig gebeur – is daar nie tyd om verskriklik te dink daaroor nie.”

Dit kan dus stresverligting bring, en ook pynverligting bring – maar hier is wel perke, soos wat navorsing bewys het en ons bespreek dit in dié dokumentêr. Nie álle vloekers gaan pynverligting ervaar nie.

En dan is daar ook die vraag of daar wel kraswoorde in die Bybel was? En in ‘n vinnig veranderende tegnologiese wêreld is daar ook die vraag of ons sal wil hê ons Kunsmatige Intelligensie Assistente moet wel kan vloek of ons verstaan wanneer ons op hulle vloek?

In die dokumentêr O Vloek! Om te swets of nie? gaan krap Esté de Klerk so klein bietjie dieper na hoekom mense vloek, wat daardie kraswoorde kan ontlont, in watter taal ons eerder swets, of dit enigsins verligting kan bring en hoekom mense so maklik oordeel. Hierdie is ‘n dokumentêr waarin jy óf heerlik gaan saamlag, óf waarin jy gaan oordeel. Dit hang seker maar af vanuit watter bril jy die lewe bekyk!

In O Vloek! Om te swets of nie,  gaan krap Este de Klerk op Donderdag 12 Maart om 20:00 so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het.

Deel nou