‘n Ouma van Pretoria met nege kleinkinders wat behoorlik smul aan haar beskuit, is as die algehele wenner aangewys in RSG en Virseker se landwye soektog na die land se “bakgatste” beskuit. Magda Janse van Vuuren (71) het ‘n totale pryspakket ter waarde van meer as R700 000 ontvang.
Van Vuuren met haar “Alles in een”-ontbytbeskuit het ook in die modern-kategorie gewen met Dominique Stander van Alberton en Martie Lamprecht van Klerksdorp in onderskeidelik in die tweede en derde plek.
Neels Heydenreich (58) van Ermelo het in die tradisioneel-kategorie koning gekraai met sy anysbeskuit. Izanne Barnard van Gqeberha was in die tweede plek en Carine van der Merwe van Jeffreysbaai in die derde plek.
Marthlé Smit van Gqeberha, 2024 se Bakgat-wenner, was een van die eindronde se beoordelaars en het die algehele wenner regstreeks op RSG aangekondig.
Van Vuuren was sprakeloos toe sy na afloop van die finale proe-beoordeling as Bakgat-bakster aangewys is.
Die 2025 Bakgat-beskuitkompetisie was vanjaar dubbeld so groot en het luisteraars uitgenooi om in twee kategorieë in te skryf: Tradisioneel en Modern. Die passie en kreatiwiteit van Suid-Afrika se bakkers het alle verwagtinge oortref.
Die uitdunproses was vanjaar besonder uitdagend weens die twee afdelings. Tydens streng proe-rondes is die oorspronklike inskrywings tot ‘n groep van top-finaliste verminder, wat die beoordelaars se taak om die wenner van die land se beste beskuit te bepaal, net moeiliker gemaak het. Die Top 6-finaliste se beskuit is op Nasionale Beskuitdag, Donderdag 13 November, een laaste keer geproe om ‘n wenner aan te kondig.
Die ses van die bestes van Suid-Afrika se bakkers is tydens ‘n luisterryke geleentheid by Virseker se kantore in Johannesburg geproe met RSG se Eloise Cupido en Derrich Gardener as die gasvrou en gasheer.
Die finale paneel beoordelaars het onder andere 2024 se wenner, Marthlé Smith ingesluit, asook bekendes en kenners uit die kos- en entrepreneurskapswêreld.
Die 2025-prys is spesifiek saamgestel om die wenner in staat te stel om hul eie sake-onderneming te kan begin en uit te brei:
- R500 000 se lugtyd op RSG.
- Die ontwikkeling van die wenner se onderneming se korporatiewe identiteit.
- Blootstelling op Maroela Media ter waarde van R70 000.
- Beskuitpanne van Panneman
- R30 000 kontant geskenk deur Virseker.
- Mentorskap deur Michelin-Chef, Jan-Hendrik van der Westhuizen!
Die wenners in elke kategorie ontvang ook elk R10 000 van Virseker. Die tweede en derde plek ontvang elk R5 000 geskenk deur Virseker. Panneman borg ook beskuitpanne vir al die top-finaliste.
“Ons voel Virseker en Afrikaans gaan hand aan hand soos koffie en beskuit. Ons deel RSG se liefde en opwinding vir Afrikaans,” sê Morné van Emmenes van Virseker oor hierdie besonderse vennootskap. “Om entrepreneurskap te bevorder terwyl ons die Afrikaanse gemeenskap deel maak van die projek, is vir ons ongelooflik vervullend.”
Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, het haar dankbaarheid uitgespreek. “RSG se luisteraars is werklik die heel beste. Ons is oorweldig deur die passie van die deelnemers en die verskeidenheid baksels in die nuwe kategorieë. Nogmaals dankie aan elke deelnemer. Mag julle dryfkrag vir julle vele deure open.”
Soos in verlede jaar, sal die oorblywende beskuit-inskrywings aan behoeftige mense en instellings versprei word in samewerking met liefdadigheidsorganisasies, om sodoende ‘n tasbare verskil in die gemeenskap te maak.
-
Neels Heydenreich – Anys: neelsheydenreich@gmail.com
-
Dominique Stander – Death by Chocolate: nikkistander7@gmail.com
-
Izanne Barnard – Karringmelk: mammasegebak@gmail.com
-
Martie Lamprecht – Pistatio en cranberry Biscotti fingers gedoop in koffiesjokolade: martielamprecht@gmail.com
-
Carine van der Merwe – Karringmelk: vdmfam@hotmail.com
-
Magda Janse van Vuuren: Haar beskuit sal eersdaags in Plato’s landswyd te koop wees, waarna sy eersdaags haar eie winkel sal loods. Hou ons platforms dop vir verdere inligting.
Vir meer inligting, besoek rsg.co.za of die stasie se sosiale media.



