Skip to content

RSG sit glinster en glans in jou matriekafskeid

RSG NOU

RSG sit glinster en glans in jou matriekafskeid

RSG sit glinster en glans in jou matriekafskeid

Die gewilde RSG en Elizabeth Galloway Academy of Fashion CSI-projek is terug vir sy derde glansryke jaar. Hierdie suksesvolle samewerking tussen die luggolwe en die modewêreld gaan in 2026 voort om die grense van kreatiwiteit te verskuif en drome waar te maak.

Verlede jaar het RSG die drome van die matriekleerders Joanie Voss en Joshua Milton bewaarheid met ‘n rok en pak wat ontwerp en gemaak is deur Elizabeth Galloway Academy of Fashion. ‘n Spesialisfotograaf het dié aand vir ewig vasgevang en die RSG-omroepers Fran-Rico Lucas en Blaine Jones was daar om verdere glans aan dié geleenthede te verleen. Vanjaar wil RSG weer twee jongmense se matriekafskeid-aande onvergeetlik maak!

RSG en die Elizabeth Galloway Academy of Fashion skud vanjaar weer blad vir dié unieke projek. “Die deelnemers se stories het ons harte gesteel—ons móés eenvoudig die projek weer loods,” verklap Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder.

Die Elizabeth Galloway Academy of Fashion gaan hierdie jaar saam met die twee wenners werk om hulle droompak en -rok te ontwerp en te maak.

Elizabeth Galloway Academy of Fashion is in 1996 deur Elizabeth gestig met die doel om jong vroue op te lei en sodoende te bemagtig.

Die etos van die Akademie is om Suid-Afrikaanse jeug in mode op te voed, ondersteuning aan hulle te bied en sodoende hul sukses in die bedryf te verseker.

Volgens Fiona Abdo, direkteur van die Akademie by Elizabeth Galloway, is mode ‘n wonderlike manier van kreatiewe kommunikasie en selfuitdrukking. Daarom het die Akademie begrip vir hoe belangrik ‘n matriekafskeid in die lewens van leerders is. Dit bied aan hulle, die geleentheid om hulself deur mode en stilering uit te druk. Die Elizabeth Galloway-span is bevoorreg en opgewonde om saam met RSG en die ontvangers te werk om hul droom te verwesenlik.

Vanjaar se twee individue word Donderdag 30 Julie aangekondig. Ná die aankondiging begin die opwindende proses om idees uit te ruil, die ontwerpe saam te stel en natuurlik die vervaardiging van die uitrustings.

Deel nou