Skip to content

“Tuimelduif” bring humor, verlies en vergifnis na ons Radioteater

RSG NOU

“Tuimelduif” bring humor, verlies en vergifnis na ons Radioteater

“Tuimelduif” bring humor, verlies en vergifnis na ons Radioteater

’n Sewentigste verjaardag bring ’n familie weer bymekaar, maar agter die viering wag ou wonde.

Tuimelduif, Morné Malan se tragikomiese familiedrama en merietepryswenner van die 2025 RSG-Radiodramaskryfkompetisie, word op Donderdag 8 Oktober 2026 om 20:00 in RSG se Radioteater uitgesaai.

Amor Tredoux behartig die regie, met Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers in die rolverdeling.

Die storie

Die verhaal speel in Mosselbaai af, waar Dawid sy tweelingsuster, Jana, ná jare terugnooi om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Wat na ’n naweek van blomme, koek en frikkadelle klink, word ’n ontmoeting met alles wat die Van Rensburgs oor die jare ongesê gelaat het. Hul ma se progressiewe Alzheimer se siekte stel nuwe eise aan die gesin, terwyl ou verwyte en onverwerkte verlies die broer en suster se verhouding opnuut onder druk plaas.

Intussen vind hul pa ontvlugting in sy belangstelling in duiwe en raak hy al hoe meer geheg aan ’n bosduif wat op sy balkon kom nesmaak. Teen hierdie agtergrond ondersoek Tuimelduif die verskil tussen ’n huis en ’n tuiste. Kan ’n mens terugkeer na die plek waar jy laas gelukkig was? En wat gebeur wanneer die mense en verhoudings wat daardie plek betekenis gegee het, intussen verander het?

Malan benader dié vrae met humor en deernis. Die drama erken hoe diep families mekaar kan seermaak, maar ook hoe hulle mekaar deur verlies en verandering kan dra. Die beeld van die tuimelduif, wat deur sy tuimelary weer koers vind, sluit aan by die verhaal se temas van rou, tweede kanse en die moed om hulp te aanvaar. Onder die botsings en stiltes lê ’n eenvoudige, kwesbare erkenning: “Ek het jou nodig.”

Die inspirasie

Die inspirasie vir die drama kom uit die persoonlike omstandighede van Malan se vriende en familielede. Die besef dat ouers nie altyd daar sal wees nie, bring dikwels nuwe verantwoordelikhede, skuldgevoelens en besluite waarvoor niemand heeltemal voorbereid voel nie. Met Tuimelduif wil hy aan luisteraars die versekering gee dat hulle nie alleen met dié ervarings staan nie. Om ondersteuning te vra en te aanvaar, word deel van die verhaal se beweging na vergifnis en aanvaarding.

Vir Malan was radiodrama die ideale medium om hierdie intieme verhaal te vertel, en die RSG Radiodramaskryfkompetisie het hom die geleentheid gebied om daarmee te eksperimenteer. Hy is ook die skrywer van verskeie Afrikaanse romans, waaronder Minder as water. Sy eerste roman, Suiderkruis, is uit ’n verhoogteks verwerk en was die debuutwenner in die Sanlam en Insig Groot Romanwedstryd. Met Tuimelduif keer hy terug na die verweefde emosies en verhoudings van die familiedrama.

Regisseursnota

Tredoux sê die teks het haar reeds met die eerste lees opgewonde gemaak. “Dis snaaks. Dis rou. Dis raak,” beskryf sy haar aanvanklike reaksie. Vir haar spreek die werk van ’n skrywer wat sy verhaal ken en uit die hart skryf. Die uitdaging was om ’n klankwêreld te skep waarin die humor en patos mekaar ondersteun, en waarin die karakters se broosheid ruimte kry om deur te klink.

Musiek vorm ’n belangrike deel van Tredoux se benadering. Sy het opnames van die jazzmusikant Brad Mehldau gekies, met grepe uit Blackbird, When It Rains, Little Person en Dusty McNugget vir die oorgange tussen tonele. Cassi Lowers se klanklandskap dra verder tot die produksie se atmosfeer by. Tredoux vertel dat die volle emosionele trefkrag tydens naproduksie na vore gekom het, toe die fyn spel, musiek en klank saamgevloei het en haar tot trane geroer het.

Tuimelduif nooi luisteraars om saam met die Van Rensburgs oor versorging, en die moontlikheid van ’n nuwe begin na te dink. Die verjaardagviering word ’n geleentheid om moeilike waarhede raak te sien, en te vra wat dit verg om werklik vir mekaar daar te wees. Dit is ’n verhaal vir elkeen wat al gewonder het hoe om nader te kom wanneer die lewe mense uitmekaar trek.

Die spelers

Zenobia Kloppers
Johann Nel en Jacques Bessenger
Karli Heine en Jacques Bessenger
Agter vlnr: Morné Malan (skrywer), Jacques Bessenger, Joanie Combrink, Johann Nel, en Amor Tredoux (regisseur). Middel: Zenobia Kloppers. Voor: Karli Heine.
Agter vlnr: Morné Malan (skrywer), Jacques Bessenger, Joanie Combrink, Johann Nel, en Amor Tredoux (regisseur). Middel: Zenobia Kloppers. Voor: Karli Heine. Heel voor: Cassie Lowers

Deel nou