Skip to content

Versevlei, ons nuwe middagvervolgverhaal, begin vandag

RSG NOU

Versevlei, ons eietydse middagvervolgverhaal, het pas begin

2025-09-26

Versevlei is ‘n oorspronklike middagvervolgverhaal wat vanaf 29 September, elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

RSG nooi jou uit om weeksmiddae stil te staan, die alledaagse geraas agter te laat en jou te verdiep in die boeiende wêreld van plattelandse intriges.

Dié vervolgverhaal is ‘n eerste uit die pen van Anneli du Preez, naaswenner van die 2023 RSG-radiodramaskryfkompetisie. Sophia van Taak, wat bekend is as joernalis en aanbieder van Vers en Klank, pak ook vir die eerste keer ‘n 40-episode vervolgverhaal aan as regisseur en voeg ‘n fyn oor vir musiek, klank en spel by die boeiende storie.

Die skrywer vertel
Oor die skryf van haar eerste vervolgverhaal vertel Anneli dit was soos om op ʼn avontuur saam met goeie vriende te gaan.  Sy het elke karakter opnuut ontmoet, lief geword vir hulle en sal hulle stories altyd saam met haar dra. “Daar was baie laat aande, lag tot my maag seer is en ja, selfs kwaad word en saam huil, maar elke oomblik van die reis was die moeite werd.”

Die regisseur vertel
Sophia meen dat Anneli ‘n heerlike storie geskryf het. Elke episode eindig op so ’n spannende  noot dat selfs die spelers nie kon wag om die volgende dag weer verder daaraan op te neem nie – die afwagting was net té groot.

Sophia brei uit oor haar ervaring as regisseur: “Met ’n vervolgverhaal se regie kan jy jou regtig in die storie verdiep. ’n Mens raak so betrokke by elke karakter se wel en weë, ek dink ek gaan na hulle verlang wanneer Versevlei die dag eindig!”

Sy sê dit is ’n voorreg om saam met gesoute akteurs soos Johann Nel en Marion Holm te kon werk. “Hulle weet net hóé! Nóg ’n bekende, Henriëtta Gryffenberg, maak met Versevlei vir die eerste keer haar buiging in die Kaapse drama-ateljee.”

Die klank
Die kundige Cassi Lowers het weer agter die klankbord ingeskuif as klankingenieur. Daar word rondgespeel met byklanke en musiek om die luisteraars oral heen saam te neem – van die rugbyklub tot by ’n veeveiling! Die karakters en milieu is allermins volksvreemd.

Die span in die ateljee
Die gedugte span agter die mikrofoon sluit radiodrama-gunstelinge soos Merlin Balie en Èmil Haarhoff  in.

Die vervolgverhaal stel luisteraars ook aan nuwe stemme uit die Wes-Kaap  bekend. Schoemé Steenkamp, Hendri Mounton, Dirk Liebenberg en Julia Marone is ervare kunstenaars wat hulle debuut in ‘n radiovervolgverhaal maak.

Die storie

Dit is 2003 en buite die dorpie Wilgerfontein in Mpumalanga lê die plaas Versevlei. ‘n Plaas wat met bloed en sweet opgebou is tot die spogplaas wat dit vandag is.

Die De Jager-familie boer al vir geslagte op die plaas. Die toekoms van hierdie spogplaas is egter in gedrang, want dit lê op ʼn skatryk steenkoolrif en die myngroep Du Walt sal enigiets doen om hulle hande op hierdie stuk grond te kry.

Die vraag is of Du Walt die enigste bedreiging vir Versevlei se erfenis inhou?

Dit is ʼn storie van egte lief en leed en hoe dit die mense in ʼn gemeenskap kan vorm, breek of laat saamstaan.

Dit wys dat mense nie altyd is wie hul voorgee om te wees nie en dat elke huis weliswaar sy eie kruis het. Dit wys dat boosheid somtyds sommer so onder mense naby ons kan rondloop, maar uiteindelik sal die waarheid, liefde, integriteit en respek seëvier.

Ontmoet die dorp se mense

Joachim De Jager (Johann Nell) is die huidige boer en eienaar van die spogplaas Versevlei. Hy is ʼn boer in murg en been. So gebore en so laat staan. Behalwe vir sy plaas, is sy beeldskone dogter, Wilmien, sy trots.

Wilhelmina “Wilmien” De Jager (Schoemé Steenkamp) is Joachim se die enigste kind.  Ná matriek gaan swot sy onderwys in Pretoria. Dit was nog altyd net sy en haar pa. Haar ma, Susan, is tragies oorlede met haar geboorte en daarom besluit sy om ná haar studies haarself op Wilgerfontein te kom vestig as die jong, geliefde onderwyseres.

Greta Le Roux (Marion Holm) is die eienaar van die Losieshuis op Wilgerfontein. Nie net is sy Joachim se skoonsuster nie, maar sy was ook getroud met Joachim se beste vriend. Sy verloor egter haar man en trou nooit weer nie. Sy help vir Wilmien grootmaak sedert sy ‘n baba was,  en het haar lief soos haar eie dogter. Greta het probeer om vir Wilmien die naasbeste ma te wees wat sy kon.

Dolf Du Plessis (Hendri Mouton) aanvaar ʼn onderwyspos in Wilgerfontein en laat vinnig die inwoners van die dorp gons, want hy is aantreklik en enkellopend. Sy ma het hom alleen grootgemaak, hy het nooit sy pa geken nie. Hy het arm grootgeword, maar met goeie waardes en goeie beginsels.

Gerrit Gouws (Èmil Haarhoff ) is ‘n volgende generasie op die plaas Geluk, wat ook die buurplaas is van Versevlei. Hy het die plaas geërf nadat sy pa skielik in ʼn tragiese skietongeluk oorlede is. Gerrit leef vinniger as wat sy beskermengel kan vlieg. Die werkwoord ‘boer’, loop nie regtig deur sy are nie, maar hy geniet die geld wat uit die boerdery verdien word.

Barto Cronjè (Dirk Liebenberg) ontvang ʼn beurs van die  WALDUCOR groep, (Beheermaatskappy van Du WALT), om ná skool deeltyds Argitektuur  te swot terwyl hy vir die groep werk. ʼn Jaar gelede, net toe hy sy voete begin vind, kry sy pa ʼn beroerte en sy verantwoordelikheid teenoor die familiebesigheid, die bakkery op Wilgerfontein, dwing hom om terug te keer.

Benita Botha (Henriëtta Gryffenberg) kom Wilgerfontein toe om ʼn rustiger lewe te soek. Boonop is sy nog mooi ook met goeie waardes. Is sy egter wie sy voorgee om te wees?

Abram Jakobs (Merlin Balie) is die slinkse bankbestuurder op Wilgerfontein en sy enigste doelwit is om sy eie bankbalans so vet as moontlik te kry. Sy volgende teiken en bonus is Versevlei.

Suzie Benjamin (Julia Marone) is Wilmien se beste vriendin. Sy’s vrolik, sjarmant en so bietjie aan die wilde kant. Sy werk in die bank en haar pa is die skoolhoof op die dorp.

Richard Benjamin (Mehboob Bawa)  is die skoolhoof op Wilgerfontein en die pa van Suzie Benjamin. Hy bestuur sy skool met trots en om befondsing te kry vir opgraderings by die skool, gaan klop hy aan by die bankbestuurder Abram Jakobs.

Luister elke weeksdag om 14:45 of luister aanlyn op rsg.co.za. Elke episode sal beskikbaar wees as potgooi en op Spotify.

 

Deel nou