Feestyd word vanjaar luisterryk op RSG gevier met regstreekse opnames van Jak de Priester se Glasiewynfontein tydens vanjaar se Woordfees, braaityd-kuierprogramme met Ettienne Ludick en ‘n spesiale keur van gewilde programme asook gewilde reekse wat herhaal word.
Programme soos Op en Wakker geniet vanaf Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie ‘n welkome blaaskans, maar luisteraars kan uitsien na ‘n keur van RSG se programbestuurder Kobus Burger se Midas van Musiek-reeks. Kunstenaars soos Phil Collins, Cher, Tracy Chapman, Neil Diamond, Laurika Rauch en die James Bond-klankbaankomponis John Barry se grootste treffers sal elke weekoggend net na 07:00 gehoor word. Die vyfde reeks van Midas van Musiek het vroeër vanjaar op RSG gedebuteer en belig die musiek en talent van kunstenaars wat soos die mitologiese koning Midas die gawe het of gehad het om dit wat hulle aanraak, in goud te laat verander.
Net na 08:00 gaan ‘n keur van Eloise Cupido se gewilde Goue Oues-programme gehoor word met saamsing-treffers van die jare 80 en 90.
Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 26 Desember om 12:00 – maar nie op Kersdag nie – word ‘n paar gewilde en bekroonde radiodramas soos Hendie Grobbelaar se Leniesgif uitgesaai. Die ander dramas sluit in Ontruim, Ons gaan huis toe en Die somer van 56.
RSG Sport gaan ook vir twee weke lank rus en daarom word daar op Saterdag 27 Desember om 17:00 ‘n spesiale opname van Jak de Priester se Glasiewynfontein uitgesaai. Hierdie keer gesels hy met Hentie de Wet van Hentie’s Juices oor Desembervakansies, dansliedjies, liefdesliedjies asook sy allergunsteling.
‘n Uur later gaan Ettienne Ludick die braaivleisvure aansteek met die beste partytjiemusiek. Luisteraars kan via WhatsApp-stemnota’s hul gunstelinge versoek.
Van Maandag 29 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 12:00 word ‘n reeks gewilde dokumentêre programme oor onder andere Anton Goosen, Taco Kamstra, Laurika Rauch en die Bergklub van Suid-Afrika uitgesaai. Tharien Oosthuizen se uurlange dokumentêr, Die kleur van lakens, wat vroeër vir ‘n gesogte Telkom SA Radioprys benoem is, word op Vrydag 2 Januarie om 12:00 uitgesaai.
Een van 2025 se heel gewildste programme en reekse was Allan se stories waarin Sue Pyler-Slabbert saam met die akteur, stemkunstenaar en wêreldreisiger Allan Dyssel deur sy lewe en ervarings gereis het aan die hand van spesiale musiekkeuses. Reeds sedert die eerste uitsending is RSG oorval met versoeke vir ‘n herhaling. Allan se stories sal van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 18:00 uitgesaai word. Luisteraars sal vroegaand na twee episodes op ‘n slag kan luister.
Op Saterdag 3 Januarie om 17:00 is Jak de Priester terug met nog ‘n opname van Glasiewynfontein en hierdie keer kuier hy saam met die befaamde kunstenaar Portchie, wat vanjaar sy 35ste jaar in die kunstewêreld vier. Portchie, wat deesdae op Stellenbosch woon, deel sy stories en musiek. Net daarna sal Ettienne Ludick weer die vure en deuntjies laat knetter met sy spesiale braaiprogram.
Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie sal Spektrum, Brandpunt asook Geldsake met Ryk van Niekerk ‘n blaaskans geniet, maar alle programme en die gewone RSG programskedule word vanaf Maandag 5 Januarie hervat.
Vir meer inligting besoek RSG se webblad by rsg.co.za.
