Skip to content

Brandon se bros suurdeeg-maalvleistacos

RESEPTE

Brandon se bros suurdeeg-maalvleistacos

Brandon se bros suurdeeg-maalvleistacos

By: Brandon Jonathan
Brandon se bros suurdeeg-maalvleistacos

Bestanddele

Vir die maalvleis
500 g beesmaalvleis
2 – 3 eetlepels shisanyama-spesery
½ teelepel sout
½ teelepel swartpeper
1 teelepel knoffelpoeier (opsioneel)
½ teelepel gerookte paprika (opsioneel)

Vir die vulsel
200 g spek, in klein stukkies gesny
250 g sampioene, in skywe gesny
1 – 2 eetlepels kookolie of botter
200 – 250 g gerasperde kaas (cheddar, mozzarella of ’n mengsel)

Vir die tacos
6 suurdeeg-wraps

Metode

Berei die maalvleis voor
Plaas die maalvleis in ’n mengbak.
Voeg die shisanyama-spesery, sout en peper by.
Voeg die knoffelpoeier en gerookte paprika by indien verkies.
Meng alles goed deur, maar moenie die maalvleis te veel bewerk nie.

Plaas die maalvleis op die wraps
Neem ’n porsie maalvleis omtrent so groot soos ’n groot frikkadel, en plaas dit bo-op ’n suurdeeg-wrap.
Gebruik jou vingers of die agterkant van ’n lepel om die maalvleis plat en dun uit te druk oor ongeveer die helfte tot twee-derdes van die wrap.
Herhaal met die res van die maalvleis en wraps.

Braai die maalvleiskant
Verhit ’n groot braaipan oor medium hitte.
Voeg ’n bietjie olie by indien nodig.
Plaas die wrap met die maalvleiskant na onder in die warm pan.
Druk dit liggies sodat die maalvleis goeie kontak met die pan maak.
Braai vir ongeveer 4 – 5 minute, of totdat die maalvleis mooi bruin en gaar is.
Die rand van die suurdeeg-wrap behoort ook lekker bros te word.

Braai die spek en sampioene
Terwyl die maalvleis gaar word, verhit ’n tweede pan oor mediumhoë hitte.
Voeg die gekapte spek by, en braai tot goudbruin en bros.
Voeg die gesnyde sampioene by en soteer saam totdat die sampioene mooi bruin is en die meeste van die vog verdamp het.
Hou eenkant.

Voeg die vulsel by
Draai die wrap om sodat die gaar maalvleis na bo wys.
Skep ’n goeie porsie van die spek-en-sampioenmengsel op een helfte van die maalvleis.
Sprinkel ’n ruim hoeveelheid gerasperde kaas bo-oor.

Vou die taco
Vou die suurdeeg-wrap in die helfte oor die vulsel.
Druk dit liggies vas sodat die kaas, spek en sampioene binne bly.

Maak die buitekant bros
Plaas die gevoude taco terug in die braaipan.
Braai vir ongeveer 2 – 3 minute aan elke kant, totdat die buitekant van die suurdeeg-wrap goudbruin en bros is, en die kaas heeltemal gesmelt het.
Herhaal met die res van die tacos.

Bedien die tacos dadelik terwyl hulle warm en bros is met:

  • Suurroom
  • Guacamole
  • Salsa
  • Gekapte tamatie
  • Vars koljander
  • Jalapeños
  • Soetrissie- of rissiesous

Wenk
Die geheim is om die maalvleis redelik dun op die wrap te druk. Dit help dat die maalvleis vinnig en egalig gaar word, terwyl die suurdeeg-wrap terselfdertyd lekker bros word.
Hou die hitte op medium sodat die maalvleis behoorlik gaar word voordat die wrap te donker raak.

Deel nou