Skip to content

Oud-onnie wen RSG se radiodramaskryfkompetisie

RSG NOU

Oud-onnie wen RSG se radiodramaskryfkompetisie

2026-01-13

‘n Kaapse skrywer en oud-onderwyser, Adam Willemse (45), is die wenner van die 29ste RSG Radiodramaskryfkompetisie, aangebied in samewerking met die ATKV. Willemse het die kroon gespan met sy radiodrama, Kalahari sterre.

Willemse ontvang R50 000 vir sy wendrama. Hy is ‘n voltydse psigometris en ‘n deeltydse opvoeder in sielkunde. Voorheen van Pretoria, woon hy al amper ‘n dekade lank in Vishoek, Kaapstad.

Die gehalte van verlede jaar se inskrywings was van so ‘n hoogstaande gehalte dat die beoordelaars twee dramas met die gesamentlike tweede prys bekroon het. Hulle is Karin du Toit (45) met Gebakte pere en Ingrid Penzhorn (42) met Suikerbek. Beide ontvang elk R25 000 se prysgeld.

Karin du Toit is haar lewe lank ‘n boorling van Vanderbijlpark en werk al 22 jaar as oogkundige. In 2019 het sy die RSG radiodramaskryfkompetisie gewen met haar debuut-radiodrama, Die lyk.

Ingrid Penzhorn is ‘n patoloog van Kaapstad en het al drie keer vantevore aan die radiodramaskryfkompetisie deelgeneem. Sy was ’n finalis in 2010, jong skrywer wenner in 2012 met Vlug, en wenner in 2014 met Ontnugter.

Jana Nortier (44), tans ‘n Engels-onderwyser in Suid-Korea, ontvang die derde prys vir haar radiodrama, Meeu-rus. Sy is ook bekend as aktrise, skrywer, en storie – en – inhoudskepper. Sy is veral bekend as Sussie in die gewilde sepie Villa Rosa en as Mabel Beeslaer in die fliek ‘n Pawpaw Vir My Darling. Nortier se prysgeld is R15 000.

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) gaan aan J.J. Roberts (28) vir Bloed van my. Roberts, oorspronklik van Upington, is ‘n skrywer en akteur, wat in die RSG vervolgverhaal van Leon van Nierop se Op die oog af gehoor is, en tans ook mede-regisseur van Kortom op RSG. Roberts het R15 000 gewen vir sy radiodrama.

Morné Malan (50), ‘n romanskrywer en tans senior taalpraktisyn en inhoudsbestuurder vir ’n internasionale tegnologiemaatskappy, ontvang die merieteprys vir Tuimelduif. Sy prysgeld beloop R10 000.

Na die eerste ronde van beoordeling kon die finaliste in die kompetisie saam met ‘n mentor-regisseur aan sy of haar inskrywing skaaf, voordat die tweede en finale ronde van beoordeling plaasgevind het. Daar was ook slypskole wat in beide Johannesburg en Kaapstad aangebied is om nuweling- en gesoute skrywers met die nodige radiodrama-vaardighede te bemagtig.

Die ATKV as hoofborg van die kompetisie, het onder andere die slypskoolgeleenthede moontlik gemaak. Die slypskole het bygedra tot die kwaliteit van skryfwerk in vanjaar se kompetisie, asook talle nuwe stemme wat met nuwe radiodramas kon deelneem. Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê “Die ATKV is trots om as hoofborg betrokke te wees by die RSG-Radiodramaskryfkompetisie. Ons doelwit met hierdie projek was om vir skrywers die geleentheid van ’n leeftyd te bied en nuwe stemme in die Afrikaanse radiodrama-genre te bevorder. Omdat die ATKV weet hoe ’n groot rol radio steeds in baie Afrikaanssprekendes se lewens speel, is dit vir ons ’n reuse voorreg om op hierdie manier tot die uitbou en bewaring van ons pragtige taal by te dra. Ons wil graag elke deelnemer vir hul bydrae bedank en die wenners van harte gelukwens met hul uitsonderlike prestasies.”

Die 30ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie skop op Dinsdag 20 Januarie af en beloof om ‘n spesiale jaar met groter prysgeld ter viering van drie dekades te wees.

 Vir meer inligting besoek rsg.co.za, asook op Facebook, Instagram en WhatsApp.

Die foto’s hieronder is vlnr: Adam Willemse, Ingrid Penzhorn, Karin du Toit, Jana Nortier, JJ Roberts en Morné Malan.

Deel nou