Wat sal in SA landbou gebeur as Suid-Amerika se reënwoude tot niet gaan?

Professor Stephanie Midgley, spesialiswetenskaplike in klimaatsverandering by die departement van landbou in die Wes-Kaap, was ’n spreker by COP, die VN se konferensie oor klimaatsverandering.

Sy praat oor die moontlike implikasies vir Suid-Afrika sou reënwoude in die tropiese gebiede van Suid-Amerika tot niet gaan.

Ná ‘n onlangse sneeustorting in Kalifornië vind ons ook uit of sneeustortings as natuurramp geklassifiseer word.

Dieremaniere: So word ‘n hond vir ‘n fliek afgerig

Optel is ‘n gemeenskap se hond, en nou is hy skoonveld. Die gemeenskap is ontsteld, en almal soek naarstiglik na hom. Hoor watter verskil ‘n dier in ’n hele gemeenskap maak, en ook ‘n rol in ‘n film speel.

Dit is die storie van Finding Optel, wat sy debuut in 2025 by die Silwerskermfees gemaak het. Dit het daar ‘n toekenning verwerf.

Mikayla Brown, skrywer, regiseur en aktrise vertel waarom sy juis hierdie storie van Optel wou vertel.

Maar om ‘n hond in ‘n film te sien, beteken daar was ‘n hond op ‘n filmstel. Garin van Munster doen diere-afrigting op filmstelle, televisiereekse en advertensies. Hy sorg dat perde galop en katte op die regte plek in in ‘n film miaau. Ons hoor hoe ‘n regisseur met diere in ‘n produksie te werk gaan.

https://omny.fm/shows/dieremaniere/rsg-bekbasaar-dieremaniere-episode-s2-e03

Die koue Benguela beïnvloed só Karoo en Kalahari se plante en diere

Het jy geweet die geharde droë Kalahari- en Karoo-streke word sterk beïnvloed deur die koue Benguela-seestroom wat noordwaarts langs die suidwestelike kus van Afrika vloei? Hoe oorleef plante en diere in dié streke, en watter impak het dit op landbou?

Ons praat met Jakkals Olivier oor die uniekheid van die Victoria-Wes Skou, en die skou se opkomende boer-wenner, Thys Agterdam, praat oor sy sukses.

https://omny.fm/shows/rsg-landbou/rsg-landbou-24-februarie-2026

Staatsverval met BKS kom al 25 jr aan

Die verval in die staat wat bek-en-klouseer betref, kom al langer as twee dekades aan.

Die eerste tekens van verval en swak beplanning kan teruggespeur word na die vroeë 2000’s. Bek-en-klouseer is ‘n staatsbeheerde siekte, en die onlangse uitbreking is volgens kenners die ergste in die land se landbougeskiedenis.

Professor Johann Kirsten het ‘n omvattende ontleding op News24 die volgehoue stuksgewyse verval van die regering se bek-en-klouseer-infrastruktuur blootgelê. Hy is van die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Ondersoek.

https://omny.fm/shows/op-en-wakker/staatsverval-met-bks-kom-al-25-jaar

Luister weer: “Die Soektog na Lt Muller Meiring se Ratel 72”

Op Donderdag 26 Februarie volg Kobus Rudolph se Die Soektog na Luitenant Muller Meiring se Ratel 72.

Die dokumentêr volg ’n 2018-toer van veterane van die 61 gemeganiseerde bataljon na Angola, waar hulle ná dekades se trauma en onverwerkte herinneringe weer die slagvelde van hul jeug besoek. ’n Kernfokus is die emosionele soektog na lt. Mielie Meiring se ratel-pantservoertuig, wat in 1988 vernietig is.

https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/die-soektog-na-luitenant-muller-meiring-se-ratel-deur-kobus-rudolph

Honderd en vyf manne, sommiges het hulle vrouens saamgebring, het op dié toer na Angola vertrek. “Op die ou paaie van slagvelde en gevegte.” 

Nie almal het besef watter impak, ‘n soort van vrymaking en afsluiting oor die verlede, dié toer sou hê nie.  Baie van die oudsoldate en ouddienspligtes wroeg al vir jare oor die hartseer en pyn wat hulle as jong seuns ervaar het.  Skaar 18 en 19 jaar en hulle moes gaan veg, die dood in die oë staar en ‘n vyand doodmaak.

Maar daar moes ook gesoek gaan word na Luitenant Muller Meiring se Ratel iewers in Angola. 

Sewe van sy oudmakkers het spesiaal op die toer gekom om na die slagveld te gaan kyk waar hulle in betrokke was en dan ook na Mielie (sy bynaam) se Ratel 72 wat iewers in die bosse in Angola gelê het. Die hinderlaag waarin hulle vasgery het en Mielie wat moontlik deur ‘n RPG vuurpylrigter gedood is, bly steeds in hulle geheue.

Muller se Ratel 72

Die toer in 2018, presies dertig jaar na Operasie Excite, is deur ‘n Angolese generaal geinisieër. So vêr as wat ons gery het, is ons deur ‘n vriendelike Angolese Polisie en BBP’s begelei, met verskeie onthale, toesprake en ontmoetings met ou Angolese veteraansoldate en vegters. 

Verskeie ander slagvelde is besoek, waar ou weermagvoertuie, kanonne en ander toerusting onderstebo lê – geroes en verweer deur die elemente. So ook oorlogmuseums en o.a. die berugte  brug by Cuito Cuanavale.

Jannie Nieuwoudt, tans ‘n boer van Ceres vertel hoe hy die slagveld en die gebeure daar onthou. Hulle was in ‘n absoluut ontspanne en rustige stemming toe hulle in die hinderlaag gery het en aangeval is. Totale chaos het gevolg.

61 Gemeganiseerde Bataljon se Veterane-Vereniging het kontak met Muller Meiring se ouers in Australië gemaak – Piet en Suzanne Meiring – hulle is ook reeds in hulle 80’er jare . Hulle het op Verkeerdevlei naby Bloemfontein geboer, maar na Muller se dood het hulle die erfplaas verkoop en saam met hulle dogters na Tasmanië verhuis. Suzanne Meiring was bereid om in 2018 en toe weer so maand gelede met ons te praat oor die skok, trauma en jare-lange pyn. Hulle boer tans met skape en Proteas en hulle kinders spog met die mooiste Laventellanderye.

Ons is baie dankbaar om te kon gesels met met Daniël Potgieter in die Kaap. Hy het ingestem om te gesels oor die pyn wat hy die afgelope 40 jaar dra asook die dag van 27 Junie 1988 toe Muller gesterf het. Lt Muller was ‘n Ratelbevelvoerder en Daniël was die kanonier op Muller se Ratel. Hy het langs Muller in die toring gesit, toe hulle deur die vuurpyl getref is. Hy “onthou dit so goed”(het hy paar keer herhaal) toe hy Muller uit die Ratel moes laai en na veiligheid toe bring. Hyself het verskeie skrapnel- en gesigswonde gehad en moes ook afgevoer word.  

Die deur waar Daniël vir Muller moes uithaal – Ratel 72.

Onderhoude met oud-soldate, kundiges en beraders toon die diep pyn, verliese en behoefte aan afsluiting. die uiteindelike ontdekking van die ratel bring groot ontlading en herinnering vir die veterane, terwyl ’n gesprek met Meiring se moeder in Australië ’n aangrypende blik bied op die blywende impak van haar seun se dood op die gesin.

Luister weer: Dokumentêr oor Roger Sedres

9 Februarie: Wêreldklas-sportfotograaf sonder aansit: die storie van Roger Sedres
Die veelbekroonde Roger Sedres se foto’s is wêreldbekend. Haidee Muller-Isaacs gaan kuier op Donderdag 19 Februarie by dié fotograaf van Gordonsbaai wat magiese momente deur sportsterre soos Chad le Clos en Wayde van Niekerk vasgevang het. Talle van die bekende Springbokrugbyspelers is reeds op skool deur Sedres op film verewig, lank voordat hulle roem verwerf het.

https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/roger-sedres-w-reldklas-sportfotograaf-sonder-aansit-deur-haidee-muller-isaacs

Een van die ikoniese foto’s wat Roger Sedres geneem het.
TOKYO, JAPAN – JULY 30: Tatjana Schoenmaker of South Africa on the winners podium after she won the women’s 200m breaststroke final in a new world record, receives her gold medal during the Swimming event on Day 7 of the Tokyo 2020 Olympic Games at the Tokyo Aquatics Centre on July 30, 2021 Tokyo, Japan. (Photo by Roger Sedres/Gallo Images)

Met verskeie Olimpiese Spele en  ander internasionale sportbyeenkomste agter die blad, het Roger baie belangrike oomblikke in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis vasgevang. Hy is tans Team SA se amptelike sportfotograaf.

Roger het ikoniese foto’s geneem van Suid-Afrikaanse sportsterre soos Chad le Clos en Wayde van Niekerk by die Olimpiese Spele en ander groot sportbyeenkomste. In 2025 het hy die Sport Visual Journalist of the Year-toekenning by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings gewen en hy het in 2022 ook die Fotograaf van die Jaar-toekenning ontvang.

Roger word wyd beskryf as nederig, passievol en professioneel, en is toegewyd om ander se stories met respek en empatie te vertel. Hy het ‘n opregte liefde vir wat hy doen en sy foto’s gaan nie oor sensasie nie, maar oor die oomblik en die mense daaragter.

Hierdie dokumentêr gee ‘n nader kykie oor Sedres se loopbaan, sy benadering tot sportfotografie en die rol wat sy unieke foto’s speel in hoe sport gesien en onthou word.

Roger saam met Met Brandon Du Plessis en Pieter Lourens (afrigter en bestuurder) van Team South Africa in die Athletes Village in Rio de Janeiro 2016
Tokio 2020 swem SPELE
ROGER IN 2025 SPORTTOEKENNINGS
Roger at Roland Garros

Eierstokkanker: Daar is lig in die tonnel

Eierstokkanker is ‘n tameletjie, want dit word dikwels laat opgespoor, en is aggressief. Maar as jy ‘n familiegeskiedenis van bors- en eierstokkanker het (dis in in die helfte van gevalle só) kan genetiese toetse jou help om ‘n besluit te neem om jou eie lewe te red. Nuwe medikasie is baie doeltreffend juis teen die geneties en oorerflike vorms van eierstokkanker.

Marí Hudson praat hieroor met onkoloog Dr Lizanne Langenhoven van PACSO.

https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-28-januarie-2026