Weet jong vroue wat hul risiko vir borskanker is?

Die meeste vroue wat borskanker kry, is ouer as 50 jaar. Vroue in hulle twintigs en dertigs kan ook borskanker kry, en dikwels een van die aggressiewe vorms van borskanker. Wat kan ‘n jonger vrou doen om te verseker dat borskanker vroeg by haar opgespoor word?
Dr Heleen Hanekom, radioloog van Groenkloof in Pretoria en lid van die Breast Imaging Society of South Africa, vertel meer:
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-15-oktober-2025

Op die foto bo is ‘n mammogram met ‘n ooglopende borskanker in die regterkantse beeld. Daar is twee borste op die beeld – die beeld aan die linkerkant van die skerm is die regter bors. Die beeld aan die regterkant van die skerm is die linker bors en dit is ook waar die massa (die wit trossie regs bo) is.
Die foto onder is ‘n borsselfondersoek diagram van Cansa. Die webwerf is https://cansa.org.za/steps-how-to-do-a-breast-self-examination-bse/.

U eie keuse vier 80 jaar van Suid-Afrikaanse radiogeskiedenis

Op 20 Oktober 2025 vier Suid-Afrika se langslopendste radioprogram, U eie keuse, 80 jaar op die lug – ’n mylpaal wat min radioprogramme wêreldwyd kan ewenaar.

Sedert sy eerste uitsending op 20 Oktober 1945 is die program elke week ’n vaste afspraak vir geslagte van Afrikaanse luisteraars wat hul gunsteling klassieke en orkeswerke deel deur die eenvoudige handeling om ’n versoek in te stuur.

Wat as ’n beskeie Saterdaguitsending ná die Tweede Wêreldoorlog begin het, het ’n nasionale tradisie geword – ’n kulturele anker wat al agt dekades lank deur die veranderende klanklandskap van Suid-Afrika speel.

In 1945 het Kosie Jooste die eerste aflewering aangebied en met sy kenmerkende styl en elegansie die toon aangegee. Op aanbeveling van sy 17-jarige broer, Willie, het hy die program se ikoniese temamusiek, Baltoneel deur Joseph Hellmesberger, gekies – ’n openingsmelodie wat tot vandag toe een van die mees herkenbare in Afrikaanse uitsaaiwese bly. (Die swart en wit foto is van die Jooste broers.)

“Dis meer as net ’n radioprogram; dis die klankbaan van Suid-Afrikaanse lewens,” sê die huidige aanbieder, Willem Pelser, wat sowat 15 jaar lank die mikrofoon behartig en onlangs sy 800ste aflewering gevier het. “Elke versoek dra ’n storie – van liefde, verlies, viering of net ’n kosbare herinnering wat saam met familie en vriende gedeel word.”

Deur die jare is U eie keuse deur ’n merkwaardige reeks aanbieders begelei – onder andere Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Frikkie Oosthuizen (wat 28 jaar lank die program aangebied het), Henk Bierman, Retief Uys, Robert Young en Wouter de Wet – elkeen met sy eie unieke stem, maar almal met dieselfde rustige en deurdagte styl wat luisteraars so goed ken.

Selfs te midde van dekades se tegnologiese verandering – van buisradio’s tot digitale stroming – het U eie keuse trou gebly aan sy formaat en doel. Elke week ontvang die program tussen 50 en 150 versoeke van luisteraars in Suid-Afrika en oorsee. Slegs ’n handjievol word uitgesaai, maar elke boodskap weerspieël die program se blywende band met sy gehoor: gewone mense wat steeds troos, vreugde en waardigheid in mooi musiek vind.

Deur die jare het U eie keuse ook aanleiding gegee tot spesiale CD-uitgawes, insluitend die gewilde 65 Jaar van U Eie Keuse, en is dit gevier met mylpaalkonserte wat deur RSG en die SAUK aangebied is – lewendige uitvoerings waar orkes- en solisoptredes saam met luisteraars se gunsteling versoeke gevier is. Hierdie vieringe beklemtoon hoe die program geslagte verbind deur gedeelde musikale herinneringe.

Benewens die nostalgie staan die program as ’n lewende argief van smaak en tyd – dit bewaar die ligte klassieke, operatiese en instrumentale werke wat die luistergewoontes van Suid-Afrikaners oor agt dekades gevorm het. Vir baie wek die bekende openingstone steeds beelde op van Sondae by die huis, familietye of rustige oomblikke van besinning.

“Vir 80 jaar het U eie keuse meer as musiek gebring – dit het mense verbind,” sê RSG se sakebestuurder Louise Jooste. “In elke noot lê ’n herinnering aan wie ons was, en aan wie ons steeds besig is om te word. Sy volgehoue bestaan bewys dat musikale skoonheid en betekenis nooit uit die mode gaan nie.”

Ter viering van hierdie uitsonderlike mylpaal sal RSG op Saterdag 18 Oktober 2025 ’n spesiale 80-jaar-herdenkingsuitgawe van U eie keuse uitsaai. Die program sal van die mees versoekte werke uit sy geskiedenis herbesoek en stories deel van lojale luisteraars wie se lewens oor die jare met dié ikoniese program verweef geraak het.

Met sy elegante voortgang, toegewyde aanhang en onmiskenbare temamusiek bly U eie keuse een van Suid-Afrika se mees geliefde radioskatte – ’n weeklikse herinnering dat daar selfs in ’n vinnig veranderende wêreld steeds plek is vir grasie, nadenke en die tydlose skoonheid van klank.

Tik maak jou ‘tokkies’; dit vreet letterlik jou breinselle op

Wat doen die stimulant Tik (kristal metamfetamien) aan jou brein? Hoekom word ‘n gebruiker psigosties en paranoïes? En wat van rehabilitasie. In die reeks van drie aflewerings vertel dr Lize Weich, psigiater van die Universiteit van Stellenbosch se geneeskunde fakulteit meer oor die mediese aspekte. Heindrich Wyngaard van Kaapse Forum, deel sy eie ondervinding met sy broer se verslawing en Mari Hudson vertel meer oor hoe sy haar houtwerkman probeer help het nadat hy aan Tik verslaaf geraak het.

Deel 1
Die gebruik van Tik is ‘n allemintige en groeiende probleem in Suid-Afrika. Ons kyk na die probleem van beide kante: die straatstorie en die mediese storie. Wat gebeur met iemand wat Tik gebruik, en wat gebeur in sy brein? Tik maak die gebruiker letterlik ‘mal’. Hierdie episode is die eerste in ‘n kort reeks oor Tik.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-24-september-2025

Deel 2
Met Tik-gebruik word massas dopamien in die brein vrygestel en die senuselle beskadig. Dit lei tot paranoïese skisofrenie, wat tydelik of permanent kan wees. Ons kyk na dieTik-probleem van beide kante: die straatstorie en die mediese storie. Hierdie is die tweede episode in ‘n kort reeks oor Tik.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-1-oktober-2025

Deel 3:
In die derde aflewering in ons reeks oor Tik, fokus ons op rehabilitasie, en op waarnemings wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-8-oktober-2025

Woordfees 25: RSG/ATKV-vierkant is daar!

SA animasie, Stripes, wen internasionale pryse

Die Suid-Afrikaanse kortfilm, Stripes, het pas ’n silwertoekenning vir animasie by die Film Olympiad in Griekeland én ’n gouetoekenning vir sy klankbaan by die Pulse of Animation-fees in Bulgarye ingepalm.

Dié kortfliek vertel die inspirerende storie van ’n speelse tierwelpie genaamd Stripes, wat haar plek in die wêreld probeer vind, en dan leer om haar eie kleure en uniekheid te omhels.

Ons praat met Cara Rust, Stripes se vervaardiger.

 

‘n Huldeblyk, herdenkings en propvol vermaak in ons 2e Radioteaterseisoen

Luisteraars gaan bederf word met kreatiewe, oorspronklike tekste, iets uit die argief, en  ‘n geskiedkundige heropname in ons  tweede radioteaterseisoen van 2 Oktober tot 25 Desember.

Radioteater word met die uitsondering van Kersdag,  elke Donderdagaand om 20:00 uitgesaai.

2 Oktober: Die besoeker
Die seisoen begin op 2 Oktober met Die Besoeker deur Herman Cronjé. Die finalisteks in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie vertel die storie van Truida wat deur haar verlede gyselaar gehou word. Die rolverdeling bestaan uit Rina Nienaber as Truida, Johan Joubert (debuteer), Ilse Klink, Donovan Pietersen en James Borthwick. Johny Klein is die regisseur.

9 & 16 Oktober: Stasie in die Niet
Chris Barnard se radiodrama, Stasie in die Niet, is heropgeneem ter herdenking van sy afsterwe tien jaar gelede. Hierdie briljante teks uit Barnard se pen word op 9 en 16 Oktober gevier wanneer die drama, weens tydsbeperkings, in twee dele uitgesaai word. Die oorspronklike opname is in 1969 in Johannesburg deur Cor Nortjé gemaak.  Die 2025 heropname is in Kaapstad gedoen met Frieda van den Heever aan die stuur as regisseur en Anrich Herbst, Karli Heine en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling.

23 Oktober: Genade, Professóôr!
Dié drama (2024 RSG-radiodramaskryfkompetisiefinalis) deur Nico Luwes, handel oor Prof. Weiss wie se taak dit is om die musiekdepartement van ondergang te red. Dit blyk dat  alles nie pluis is in die personeel en sekere studente se persoonlike lewens nie. ‘n Subtiele heksejag word van stapel gestuur om die skuldige uit te vang. Hierdie klug prikkel die lagspiere op 23 Oktober met André Odendaal as Prof Weiss, en Sulette Thompson, Bertha le Roux-Wahl, Botha Enslin en Mada Oosthuizen (debuut) in die rolverdeling. Karen Wessels het die regie behartig.

30 Oktober: Twee grafgrawers en ‘n melkhout.
Jaco Versfeld, een van die merietepryswenners in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie debuteer op 30 Oktober met sy eerste radiodrama, Twee grafgrawers en ‘n melkhout. In die radiodrama besef die luisteraar opnuut dat alle slegte mense ‘n bietjie goed in hulle het, alle goeie mense ‘n bietjie sleg in hulle, en dat alles nie op die oppervlak is soos wat dit lyk nie. Renske Jacobs is die regisseur met Phillru van Achterberg, Mortimer Williams, Izette Blignaut (debuteer), Kevin Smith en Francois Stemmet in die rolverdeling.

6 November: Daar leef mense daar (2012)
Dié drama word op 6 November weer uitgesaai as huldeblyk aan die bekroonde dramaturg Athol Fugard wat vroeg in 2025 oorlede is.  Fugard was alom bekend as dramaturg van protesteater. Maar met Daar leef mense daar (People are living there) beeld hy in die tragikomedie ’n middeljarige vrou, Milly, uit wat vasgevang is tussen haar verlange na betekenis en die harde werklikheid van haar eensaamheid. Marko van der Colff het dit vertaal in Afrikaans. Margot Luyt het die drama vir die radio verwerk en die regie behartig. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick.

13 November: Desembersterre
Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word,  het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot. Geniet ‘n kykie agter die skerms in die lewe van TV-sterre. Die regie word behartig deur Estel de Beer. Die span agter die mikrofoon is Lizelle Pike, Dihan Keun, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor, Botha Enslin, en Rian Terblanche.

20 November: Eindfluitjie
Dit is 30 jaar sedert die Springbokke se geskiedkundige oorwinning in die 1995 Rugby Wêreldbekertoernooi op Ellispark. Op 20 November vertel Eindflutije, deur Albert Short, ‘n fyn verweefde storie van drome, wense en ‘n verspilde verlede in ‘n jong demokrasie vol hoop en verwagting. Al die gebeure speel af teen die agtergrond van daardie onvergeetlike dag op Ellispark. Die rolverdeling is Stefan Vermaak, Roeline Daneel, Eloff Snyman, Deon Lotz, Jane de Wet en Wilhelm van der Walt. Die bekende rugbykommentator en omroeper, Johan Rademan, sorg as regisseur vir al die rugbyklanke, en spel wat die drama ‘n ware belewenis maak.

27 November: Vermis, Ophelia
Maria Vos skets die komiese gebeure by ‘n kermis waar die hele dorp op hol gejaag word op soek na Ophelia. Skakel op 27 November in vir Vermis, Ophelia, (‘n finalis in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie) met Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet.  Juanita Velts is die regisseur.

4 Desember: Vlugvoos
In Vlugvoos
deur Ronel Mostert, wat op 4 Desember uitgesaai word,  probeer die karakters ‘n geheimsinnige moord ontsyfer. Vier maande getroud en dan sterf André. Cumi, sy vrou, is die hoofverdagte. Ina Strydom het die regie behartig met Juanita Velts, Andreas Jordaan, Anton Engelen, Mariette Engelen en Claudia Jones in die rolverdeling.

11 Desember: Misverstand
Anene Loots se Misverstand (‘n finalis in die 2024  RSG-radiodramskryfkompetisie), is ‘n romantiese klug oor ‘n paartjie wat die vlam in hulle huwelik verloor het. Elna probeer die vonk tussen haar en Bert weer laat opvlam – met verreikende gevolge. Thomas van Niekerk, reeds bekend aan RSG-luisteraars as skrywer en regisseur van Kiskenades, debuteer as radiodrama-regisseur met Albert Maritz as Bert en Joanie Combrink as Elna, asook Nic de Jager en Ané Fourie (debuteer) in die rolverdeling. Dit word op 11 Desember uitgesaai.

18 Desember: Pendoring (EDMS) Beperk
2025 is die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika.  Om die feesvieringe voort te sit word die 1975 argiefdrama, Pendoring (EDMS) Beperk, deur Ampie van Straten, op 18 Desember uitgesaai. Die radiodrama fokus op die eksentrieke kopieskrywer Gert Klopper, wie se passie vir Afrikaans—wat hy liefderyk beskryf as sy “meisie”—bots met konvensionele taalreëls.  Die rolverdeling bevat die room van Afrikaanse stemme soos Katinka Heyns, Matthys du Toit, Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois  Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius en Alewyn Lee. Roelf Jacobs het die regie behartig.

25 Desember: ‘n Wonderwerk vir Kersfees (2018)
Die seisoen word op 25 Desember afgesluit met die Kersdrama uit die argief, ‘n Wonderwerk vir Kersfees (2018) deur Riana Scheepers. Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, wat die inspirasie vir die verhaal is. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Dit het wel nie tydens Kersfees gebeur nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief. Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais is in die rolverdeling en Johan Rademan het die regie behartig. Dié drama word as deel van RSG se Kersdaginhoud om 15:05 uitgesaai, en nie om 20:00 nie.

Alle dramas is ná die uitsending beskikbaar op potgooi by rsg.co.za, asook op Spotify.

Luister weer na ‘Die Besoeker’

Luister weer na Die Besoeker deur Herman Cronjé, ‘n 2024 finalis van die RSG-Radiodramaskryfkompetisie.

Die Besoeker is ’n aangrypende drama wat jou deur tyd sleep in ’n wêreld van familiegeheime, onverwerkte pyn, en ‘n desperate soeke na verlossing. Die drama bevraagteken die mure wat families in hul huise bou – nie net van baksteen nie, maar van duistere geheime, swaar swye en genadelose verwerping.

Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert (debuteer), en Johny Klein het die regie behartig.  Beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die storie
‘n Dertien jarige dogtertjie is dood in ‘n tref en trap ongeluk in die 1990’s. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaas gevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel (James Borthwick) neem sy eie lewe en Truida (Rina Nienaber) word jare later gediagnoseer met ‘n verdoemende geestesiekte.

Marko (Johan Joubert), hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ‘n vriend, JP (vertolk deur Donovan Pietersen),‘n toegeboude agterdeur in hul kombuis ontdek.
Hierdie deur laat hom terug gaan in tyd en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal in die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir dogtertjie se misterieuse dood.

Die drama weef deur tyd en werklikheid, en laat jou vra: Wat sou jy verander as jy een oomblik uit die verlede kon herleef? Moet mens ou deure oopsluit om die lig van die waarheid te vind, of moet mens die verlede se grimmige skaduwees in die donker los?

Oor die skrywer – Herman Cronjé
Herman Cronjé is ’n siviele ingenieur met een voet in die Kaap en die ander in Riyadh in Saoedi -Arabië. Die Besoeker, ‘n aangrypende psigologiese riller, is sy derde radiodrama en weerspieël sy talent vir rou emosionele en draaiende narratiewe.

In 2018 verower hy die tweede plek in die RSG Radiodramaskryfkompetisie met sy debuut-drama, Die Selle, ‘n wetenskapsfiksie klug, gevolg deur Die Ontheemdes, aangewys as ’n finalis in die 2019 kompetisie.

 

Frans Swart van Lefra-faam deur Roodepoort-teater vereer

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en regisseur van baie gewilde teaterproduksies, het ‘n Ster-toekenning ontvang van die Roodepoort-teater vir sy jarelange bydrae tot teater in Suid-Afrika.

Die toekenning is gemaak tydens die Roodepoort se 45ste jaar herdenking, die inwyding van die opgeknapte teater, die bekendstelling van ’n eksklusiewe koffietafelboek om die geleentheid te vier en ook die onthulling van die “walk of fame” waarmee 30 legendariese persone vereer is.

Swart sê dat dit vir hom ‘n besondere eer en voorreg is om die toekenning te ontvang.  “Ek wil baie dankie sê aan die Roodepoort-teater. Ek ontvang hierdie toekenning in diepe erkentlikheid en dankbaarheid aan my Skepper, wat vir my die talente, gesondheid en krag gee om hierdie mal teaterberoep van my te kan doen”.  

Hy sê dat sy pad met die Roodepoort-teater ‘n lang pad kom en Lefra het oor jare wonderlike produksies by die Teater gespeel.  “Oorlede Weiss Doubell het uitstekende werk hier gedoen om die Roodepoort-teater as Opera en Klassieke Musiek teater te vestig en het internasionale erkenning vir hierdie teater gekry.  Ek is so dankbaar dat die Roodepoort-teater vir Weiss hierdie besondere erkenning gegee het en hom en sy familie ook geëer het vir die onbaatsugtige diens wat hy oor baie jare aan die teater gelewer het”.

Hy sê ook dat dit werklik jammer is dat baie van soortgelyke produktiewe stadsteaters nie meer operasioneel is nie.  “Plaaslike owerhede wat nie hul plig nakom ten opsigte van die stadsteaters in hul omgewing nie, moet werklik aangespreek word.  Gaan leer by die Johannesburgse Metro.  Dit is die plig van plaaslike owerhede om teaters te bedryf, te finansier en sodoende werk vir kunstenaars te skep.  ‘n Teater in jou plaaslike omgewing mag nooit as ‘n luukse gesien word en sommer summier van die begroting geskrap word nie.   Inwoners moet opstaan en dorpe en plaaslike owerhede wat hulle teaters laat verlore gaan het, te kritiseer en druk op daardie owerhede uit te oefen.”

Sitruskwekers se akademie help hoërskoolleerders en lei landbou-voorligters gratis op

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê die Sitrus Sekondêr-program skep ‘n geleentheid vir leerders om ‘n reeds erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal. Dit word deur die Sitrusakademie – ‘n filiaal van die Sitruskwekersvereniging – aangebied. Daar word ook nou ‘n gratis kursus aangebied vir voornemende landbouvoorligters in die sitrusbedryf.

Dr. Böhmer Skool leer praktiese lewensvaardighede aan leerders met intellektuele gestremdhede. Hulle het hulle landbouprogram met slegs 100 hoenders begin. Vandag het hulle 340 henne en ‘n skoolvoedingsprogram wat deur eierproduksie gedryf word. Santa Ferreira van Nutrifeeds deel hulle merkwaardige storie.

Versevlei, ons nuwe middagvervolgverhaal, begin vandag

Versevlei is ‘n oorspronklike middagvervolgverhaal wat vanaf 29 September, elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

RSG nooi jou uit om weeksmiddae stil te staan, die alledaagse geraas agter te laat en jou te verdiep in die boeiende wêreld van plattelandse intriges.

Dié vervolgverhaal is ‘n eerste uit die pen van Anneli du Preez, naaswenner van die 2023 RSG-radiodramaskryfkompetisie. Sophia van Taak, wat bekend is as joernalis en aanbieder van Vers en Klank, pak ook vir die eerste keer ‘n 40-episode vervolgverhaal aan as regisseur en voeg ‘n fyn oor vir musiek, klank en spel by die boeiende storie.

Die skrywer vertel
Oor die skryf van haar eerste vervolgverhaal vertel Anneli dit was soos om op ʼn avontuur saam met goeie vriende te gaan.  Sy het elke karakter opnuut ontmoet, lief geword vir hulle en sal hulle stories altyd saam met haar dra. “Daar was baie laat aande, lag tot my maag seer is en ja, selfs kwaad word en saam huil, maar elke oomblik van die reis was die moeite werd.”

Die regisseur vertel
Sophia meen dat Anneli ‘n heerlike storie geskryf het. Elke episode eindig op so ’n spannende  noot dat selfs die spelers nie kon wag om die volgende dag weer verder daaraan op te neem nie – die afwagting was net té groot.

Sophia brei uit oor haar ervaring as regisseur: “Met ’n vervolgverhaal se regie kan jy jou regtig in die storie verdiep. ’n Mens raak so betrokke by elke karakter se wel en weë, ek dink ek gaan na hulle verlang wanneer Versevlei die dag eindig!”

Sy sê dit is ’n voorreg om saam met gesoute akteurs soos Johann Nel en Marion Holm te kon werk. “Hulle weet net hóé! Nóg ’n bekende, Henriëtta Gryffenberg, maak met Versevlei vir die eerste keer haar buiging in die Kaapse drama-ateljee.”

Die klank
Die kundige Cassi Lowers het weer agter die klankbord ingeskuif as klankingenieur. Daar word rondgespeel met byklanke en musiek om die luisteraars oral heen saam te neem – van die rugbyklub tot by ’n veeveiling! Die karakters en milieu is allermins volksvreemd.

Die span in die ateljee
Die gedugte span agter die mikrofoon sluit radiodrama-gunstelinge soos Merlin Balie en Èmil Haarhoff  in.

Die vervolgverhaal stel luisteraars ook aan nuwe stemme uit die Wes-Kaap  bekend. Schoemé Steenkamp, Hendri Mounton, Dirk Liebenberg en Julia Marone is ervare kunstenaars wat hulle debuut in ‘n radiovervolgverhaal maak.

Die storie

Dit is 2003 en buite die dorpie Wilgerfontein in Mpumalanga lê die plaas Versevlei. ‘n Plaas wat met bloed en sweet opgebou is tot die spogplaas wat dit vandag is.

Die De Jager-familie boer al vir geslagte op die plaas. Die toekoms van hierdie spogplaas is egter in gedrang, want dit lê op ʼn skatryk steenkoolrif en die myngroep Du Walt sal enigiets doen om hulle hande op hierdie stuk grond te kry.

Die vraag is of Du Walt die enigste bedreiging vir Versevlei se erfenis inhou?

Dit is ʼn storie van egte lief en leed en hoe dit die mense in ʼn gemeenskap kan vorm, breek of laat saamstaan.

Dit wys dat mense nie altyd is wie hul voorgee om te wees nie en dat elke huis weliswaar sy eie kruis het. Dit wys dat boosheid somtyds sommer so onder mense naby ons kan rondloop, maar uiteindelik sal die waarheid, liefde, integriteit en respek seëvier.

Ontmoet die dorp se mense

Joachim De Jager (Johann Nell) is die huidige boer en eienaar van die spogplaas Versevlei. Hy is ʼn boer in murg en been. So gebore en so laat staan. Behalwe vir sy plaas, is sy beeldskone dogter, Wilmien, sy trots.

Wilhelmina “Wilmien” De Jager (Schoemé Steenkamp) is Joachim se die enigste kind.  Ná matriek gaan swot sy onderwys in Pretoria. Dit was nog altyd net sy en haar pa. Haar ma, Susan, is tragies oorlede met haar geboorte en daarom besluit sy om ná haar studies haarself op Wilgerfontein te kom vestig as die jong, geliefde onderwyseres.

Greta Le Roux (Marion Holm) is die eienaar van die Losieshuis op Wilgerfontein. Nie net is sy Joachim se skoonsuster nie, maar sy was ook getroud met Joachim se beste vriend. Sy verloor egter haar man en trou nooit weer nie. Sy help vir Wilmien grootmaak sedert sy ‘n baba was,  en het haar lief soos haar eie dogter. Greta het probeer om vir Wilmien die naasbeste ma te wees wat sy kon.

Dolf Du Plessis (Hendri Mouton) aanvaar ʼn onderwyspos in Wilgerfontein en laat vinnig die inwoners van die dorp gons, want hy is aantreklik en enkellopend. Sy ma het hom alleen grootgemaak, hy het nooit sy pa geken nie. Hy het arm grootgeword, maar met goeie waardes en goeie beginsels.

Gerrit Gouws (Èmil Haarhoff ) is ‘n volgende generasie op die plaas Geluk, wat ook die buurplaas is van Versevlei. Hy het die plaas geërf nadat sy pa skielik in ʼn tragiese skietongeluk oorlede is. Gerrit leef vinniger as wat sy beskermengel kan vlieg. Die werkwoord ‘boer’, loop nie regtig deur sy are nie, maar hy geniet die geld wat uit die boerdery verdien word.

Barto Cronjè (Dirk Liebenberg) ontvang ʼn beurs van die  WALDUCOR groep, (Beheermaatskappy van Du WALT), om ná skool deeltyds Argitektuur  te swot terwyl hy vir die groep werk. ʼn Jaar gelede, net toe hy sy voete begin vind, kry sy pa ʼn beroerte en sy verantwoordelikheid teenoor die familiebesigheid, die bakkery op Wilgerfontein, dwing hom om terug te keer.

Benita Botha (Henriëtta Gryffenberg) kom Wilgerfontein toe om ʼn rustiger lewe te soek. Boonop is sy nog mooi ook met goeie waardes. Is sy egter wie sy voorgee om te wees?

Abram Jakobs (Merlin Balie) is die slinkse bankbestuurder op Wilgerfontein en sy enigste doelwit is om sy eie bankbalans so vet as moontlik te kry. Sy volgende teiken en bonus is Versevlei.

Suzie Benjamin (Julia Marone) is Wilmien se beste vriendin. Sy’s vrolik, sjarmant en so bietjie aan die wilde kant. Sy werk in die bank en haar pa is die skoolhoof op die dorp.

Richard Benjamin (Mehboob Bawa)  is die skoolhoof op Wilgerfontein en die pa van Suzie Benjamin. Hy bestuur sy skool met trots en om befondsing te kry vir opgraderings by die skool, gaan klop hy aan by die bankbestuurder Abram Jakobs.

Luister elke weeksdag om 14:45 of luister aanlyn op rsg.co.za. Elke episode sal beskikbaar wees as potgooi en op Spotify.