Ontmoet Carla Mackenzie

Carla Mackenzie, aanbieder van Top Treffers en RSG Sport asook regisseur van Spitstyd, is ’n veelsydige uitsaaier wat reeds by verskeie radiostasies gewerk het en TV-programme soos Musiek Paniek aanbied. Sy is in Malmesbury gebore, maar het in Stellenbosch grootgeword waar sy ook later ’n omroeper was by die kampusradiostasie MFM. Kobus Burger, RSG se programbestuurder het met haar gesels.

Wanneer en hoe het die radiogogga jou gebyt?
In die oggend wanneer ons skool toe gery het, het ons altyd na die radio geluister. Ek het toe later na die kampusradiostasie in my kamer geluister en later was ek so gefassineerd met die medium. Toe ek 19 jaar oud was, het ek verskeie toetse deurgegaan om aan te sluit by MFM, die Universiteit van Stellenbosch se kampusstasie.

Soos baie van RSG se omroepers (soos Martelize Brink) het jy dus by MFM begin. Wat het daardie dae jou geleer?
Sho, baie. Ek het daar leer redigeer, programme aanbied, kompetisies geloods. Dit was die beste jare! Ook omdat jy dit destyds nie vir geld gedoen het nie. Dit was pure genot en ek dink dit is hoekom ek nog steeds radio doen en vir lank nog sal liefhê.

Waar kom jou liefde vir sport vandaan?

In 2008 by ‘n SA hokkie toernooi in Randburg, Johannesburg

Ek het in ‘n sportiewe huis grootgeword. My pa, Jantjie Marthinus, het destyds die 800 m SA-rekord gehou en ek het net met nefies grootgeword.

So ek het van kleins af goeie hand-oog-koördinasie gehad vir ‘n meisie. Ek dink omdat sport vir my begin het as pret, geniet ek dit nog om al dáái sportsoorte te beoefen.

Jy het hokkie gespeel asook sokker en geniet fietsry. By watter sportsoorte is jy nog betrokke?
Ek ry gereeld fiets maar het ook begin padel speel!

Jy is ook ’n TV-aanbieder. So hoe balanseer jy jou besige skedule?

Op die stel van die TV program, Hier Sit Die Manne

Dit kan party maande besig raak. Wanneer dit besig raak en hoe ek rustig bly, is dat ek dan seker maak dat niks oorvleuel nie.

Ek sal altyd op ‘n weeksdag 13:00 klaargeskiet wees aan ‘n TV-program om genoeg ruimte te bied om betyds by Spitstyd aan te meld. ‘n Besige skedule gee ook vir my nuwe idees, jy praat met meer mense.

Wat geniet jy in jou vrye tyd?
Daar is ‘n ‘old school’ kroeg in die hartjie van Linden, Johannesburg waar jy net kan instap en daar is ‘n kennis (wat jy ken).

Hulle speel ook Janis Joplin, Led Zeppelin en die Beatles! Ek hou ook van ‘n Sondagoggend. Ek gaan ry gewoontlik fiets en braai graag.

Wie is vir jou ’n rolmodel in die uitsaaibedryf en hoekom?
‘n Rolmodel is iemand wat vir lank in die uitsaaibedryf is en steeds geliefd is. Barney Simon, Martelize Brink, Willem Pelser met sy werksetiek, Mariëtta Kruger by wie ek elke dag kan leer en mee tee kan drink!

Jy het voorheen vir ‘n kommersiële uitsaaier gewerk, terwyl RSG ’n openbare uitsaaier is. Vind jy daar is ’n groot verskil tussen die twee? En wat geniet jy van RSG?

By die Radio Awards, Sandton 2023

Daar is ‘n groot verskil tussen die twee. Ek hou van kommersiële radio want dis vinnig, met kompetisies en jy saai regstreeks vanuit vreemde plekke uit, maar partykeer is daar ‘n groter element dat jy dit (eintlik net) vir jouself doen. Ek hou van spansporte en RSG is vir my die beste Afrikaanse spansport in Suid-Afrika.

Het jy enige stokperdjies? Of hou sport en uitsaai jou besig genoeg?
Sport is ‘n groot stokperdjie, maar ek hou van kuns en versamel ook graag rooiwyn. Elke bottel in die huis het ‘n storie oor hoekom hy daar is.

Wat is vir jou die lekkerste bederf?
‘n Massage en ‘n gamedrive!

Na watter land wil jy graag reis en hoekom?

Op vakansie met gesin, 1993

Ek wil graag na Frankryk reis. Ek is op 28 Mei 1990 gebore, die dag waarop die Franse Ope (daardie jaar) begin het. My ouers het my tweede naam toe Arantxa gemaak. (Arantxa Sánchez Vicario is ‘n vorige nommer 1-speler). Dit sal vir my spesiaal wees om Roland Garros in Mei by te woon.

 

RSG bied weer vanjaar die radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV aan!

RSG, in samewerking met die ATKV, is verheug om die bekendstelling van die RSG Radiodramaskryfkompetisie aan te kondig.

Dit is die 28ste agtereenvolgende jaar wat die kompetisie aangebied word. Hierdie gesogte kompetisie bied ʼn  platform vir talentvolle skrywers om hul kreatiwiteit ten toon te stel en hul stories tot lewe te bring deur die boeiende medium van radio.

Met ʼn  totale pryspoel van R115 000 bied vanjaar se kompetisie aansienlike pryse vir deelnemers. Die algehele wenner sal ʼn kontantprys van R50 000 ontvang, terwyl die naaswenner R25 000 ontvang. Die drama in die derde plek sal R15 000 ontvang, en ‘n spesiale prys van R15 000 word aan die Jong Skrywer (onder 30 jaar oud) oorhandig. Daarbenewens sal ‘n merieteprys van R10,000 toegeken word aan ʼn  drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die top vier posisies kwalifiseer nie.

Wenradiodramas sal nie net kontantpryse ontvang nie, maar ook die eer hê om in 2025 op RSG uitgesaai te word en ʼn  wye gehoor regoor die land te bereik.

Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.  Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.  Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.  ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.  Die kompetisie sluit 30 Junie 2024.

ʼn Omvattende handleiding wat die kompetisiereëls en inskrywingsvorm bevat is gratis op RSG se webwerf beskikbaar. Die handleiding bevat ook ʼn toegewyde bladsy met waardevolle skryfwenke om beide nuwelinge en ervare skrywers te help om hul vaardighede te slyp.

Daar sal twee komplimentêre aanlyn slypskole aangebied word om jou te help met die skryf van ʼn radiodrama. Ons beveel sterk aan dat die handleiding aflaai word, die inhoud daarvan deeglik bestudeer word en skryfpogings voor die slypskool begin. Inligting oor hoe om in aanmerking te kom vir die slypskole is beskikbaar op ww.rsg.co.za.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en twintig tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hulle tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Moenie hierdie ongelooflike geleentheid om jou skryftalent ten toon te stel mis nie! Dien jou radiodramadraaiboek vir die kans om kontantpryse te wen en jou werk op RSG te laat uitsaai.

Klik hier om al die belangrike dokumente af te laai:

Ontkleedanse en ‘n vroulike pous in RSG se potgooiskatkis

Glenda Kemp nou.

Wat het geword van Glenda Kemp?
Wat het geword van die omstrede ontkleedanseres Glenda Kemp, wat eens so eg Suid-Afrikaans was soos sonskyn, Chevrolet, biltong en braaivleis? Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het weer die RSG potgooiskatkis se deksel gaan lig en deel ’n paar lekkerluister hoogtepunte.

Glenda Kemp en haar luislang, Oupa, is in die jare 70 en 80 verskeie kere in hegtenis geneem en van openbare onsedelikheid aangekla. Tog het die Sondagkoerant Rapport haar as “Nuusmaker van die Jaar” gewys. Maar wat het van Glenda geword?

Daar is gerugte dat sy in Engeland woon, maar Mariska Spoormaker het haar hier in Suid-Afrika opgespoor.

Luister hier – https://omny.fm/shows/driesestig-1/glenda-kemp-dans-nou-net-vir-die-here

NP v W Louw

Vers en klank, elke Dinsdagaand om 21:20 op RSG, is ’n gewilde voorleesprogram met gedigte deur verskeie van Afrikaans se woordsmede. Tien jaar gelede is dié program aan toonsettings van Afrikaanse gedigte gewy. Daar was verse van Breyten Breytenbach, Petra Muller, N.P. van Wyk Louw en Ingrid Jonker gesing deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Randall Wicomb, Amanda Strydom, Laurinda Hofmeyr, Lize Beekman en Herman van den Berg.

Luister hier –

https://omny.fm/shows/vers-en-klank/1-jan-2013

Pous Johanna II
As deel van RSG Kunstefees is Esther Vilar se omstrede toneelstuk Pous Johanna II uitgesaai met die geliefde aktrise Jana Cilliers in die titelrol.

Dit is die jaar 2033 en ‘n Amerikaner – die dogter van ‘n prostituut wat in ‘n krotbuurt in Los Angeles gewoon het – word as pous verkies. Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar en Katolieke priesters mag trou. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. Al die Katolieke kerk se geld is onder die armes verdeel. En nou lewer Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op televisie, al word sy kort-kort deur advertensies onderbreek.

Die aktrise Jana Cilliers lewer ‘n kragtoer in hierdie omstrede solostuk oor geloof en godsdiens in die moderne wêreld. Ook met Sulette Thompson in die rolverdeling.

Luister hier – https://omny.fm/shows/rsg-kunstefees/pous-johanna-ii-deur-esther-vilar

Tossie Lochner

Tossie Lochner

Die geliefde omroeper Tossie Lochner en haar oproepe uit Italië is sinoniem met Afrikaanse radio. Ter viering van die 85 Jaar van Afrikaanse radio het sy met Pieter van den Berg gesels oor die dae toe sy as sportverslaggewer gewerk het.

Luister hier – https://omny.fm/shows/85-jaar-van-afrikaanse-radio/tossie-lochner-dink-terug-aan-haar-dae-as-sportver

Wen-dokumentêr oor Breyten Breytenbach
Johan Rademan is met ’n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy hoorbeeld oor die digter Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach in Matjiesfontein agter die klavier.

Johan Rademan het die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alombekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik ‘n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so ‘n Renaissance-kunstenaar is. Luister na die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, saamgesmelt in een program wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Luister hier na Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering –  https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/breyten-breytenbach-n-ander-skakering-deur-johan-r

Lees en luister ook meer oor Johan Rademan en die dokumentêr:
https://www.rsgplus.org/johan-rademan-deur-akademie-vereer/

 

 

 

 

 

Diefstal uit petroleumpypleidings op plase is groot probleem

Boere van die Harrismith-distrik spandeer miljoene rande om sekondêre paaie in stand te hou. Daar is ook ‘n ander uitdaging – die nasionale petroleumpyplyn wat deur plase loop. Dit beteken diefstal van ‘n ander aard. George Galloway, wat vir langer as 15 jaar voorsitter van die Harrismith Distriksboere-unie is, gesels oor hulle uitdagings.

Heinrich Victor van OVK vertel wat by die laaste wolveiling gebeur het.

Bardley Dodds, een van elf kontrakgroeiers vir Noorsveld Chickens in die Jansenville-omgewing, verduidelik wat dié arbeidsintensiewe boerdery behels.

Skud blad met Reggie Philander

Reggie “Ma Se Kind”  Philander, wat Vrydagaande tussen 21:20 en 23:00 die musiekprogram Skud dit op RSG aanbied, is al vir bykans ‘n kwarteeu ‘n radio-omroeper en uitsaaier.

Hy is in Eldorado Park in Johannesburg gebore en het ‘n diploma in radioproduksie van die African Media University. Hy is ook die skepper van die T-hempreeks “Ma Se Kind”. Hier verklap hy ‘n bietjie meer oor homself in ‘n gesprek met RSG se programbestuurder, Kobus Burger.

Hoe en waar het jou liefde vir radio begin?
Ek hoor by familielede dat ek van kindsbeen af altyd voor ‘n radio was. Ek sou musiek wat op radiostasies speel opneem, dit terugspeel dan aankondig. So my liefde vir radio het by die huis begin.

Jy is ook ‘n sanger. Hoe het dit gekom dat jy begin sing het? En wat is jou gunsteling-liedjie om te sing?
‘n Sanger? Dis ‘n kompliment. Ek sing gereeld by karaoke-aande en so nou en dan by funksies waar ek gehuur word as platejoggie. Een van my gunstelingliedjies is Larry Graham se One in a million.

Het jy enige stokperdjies wat jou van tyd laat vergeet?
Musiek, poësie en rymklets.

Wie is vir jou ‘n held en hoekom?
Daar is baie. Moelik om net een te kies. As ek regtig moes, sou dit my kleindogter wees. Sy is die metafoor van geesdriftigheid en volmaaktheid.

Wat laat jou glimlag?
My kleindogter, Ayána Leron Philander, die liefde wat sy van haar ma en pa ontvang en haar instinktiewe liefde vir haar familie. Die glimlag op my vrou se gesig as sy my seuns en ons kleinkind sien. ‘n Ouma wat styf aan haar oupa klou of andersom, asof hulle net gister ontmoet het… en my seuns.

Waar hou jy graag vakansie?
Enige aansienlike of minder aansienlike plek waar spinnekoppe en slange sonder gif is.

Wat sou jy doen in ‘n wêreld sonder radio?
Dalk in een opinie geglo het en beperkte kennis van musiek gehad het.

Waarsonder sal jy nie jou dag kan begin nie?
My tandeborsel, ‘n glimlag en ‘n liedjie wat dit aanspoor.

*Luister elke Vrydagaand om 21:20 na Skud dit met Reggie Philander, net op RSG.

Eloïse bring ’n tikkie kosbaarheid

“Hallo julle kosbare mense” is hoe Eloïse Cupido haar kollegas groet.

Wanneer kykers van Kyknet se Ontbytsake-program, wat sy saam met Dawie Roodt aanbied, haar raakloop, stop sy eers vir ’n geselsie, want haar kykers en luisteraars is vir haar kosbaar. Sy is lief vir mense en die gemeenskap, al van kindsbeen af waar sy in Montagu grootgeword het.

Alhoewel Eloïse al jare verskeie rolle in RSG se radiodramas vertolk het, het sy amptelik in 2022 deel van die op-lug-aanbieders geword as nuusleser in Alhoebekker asook kontinuïteitsaanbieder saans. Net nóg ’n veertjie in hierdie veelsydige  aanbieder en aktrise se hoed.

Sy spog met talle aanbieders- en toneelspelrolle op haar kerstok nadat sy haar dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.  Kykers het haar aanvanklik leer ken in gewilde programme soos Vetkoekpaleis, Die Vierde Kabinet, Arsenaal, Generations en nou ook as Rose in Diepe Water. Haar aanbieding van Belboks gedurende 2002 en 2003 het haar ’n geliefde onder Afrikaanse kykers gemaak en daarna het die Geraas musiektoekennings, Lyfkuns, Athletics Alive en Kwêla op Kyknet gevolg om maar enkeles te noem.

Nou wink ’n spliternuwe rol vir haar. Hierdie keer op radio. Intussen sal vir die eerste keer op 8 Mei, 9:00 – 12:00 op RSG uitsaai met Eloise as die ankeraanbieder. Dié radioprogram sal ’n verlengstuk van Eloise se persoonlikheid wees en haar kosbare ingesteldheid teenoor luisteraars weerspieël. Luisteraars kan steeds verwag om ’n reis na binne te ervaar wat Alhoebekker sedert 2019 gebring het, maar nou word die stokkie aan Eloise oorgegee om ’n tikkie kosbaarheid by te voeg.

Eloise se professionele loopbaan strek oor 26 jaar.

Daar was groot uitdagings wat sy in haar loopbaan trotseer het maar die dapperste ding wat sy ooit kon doen is om ’n kind te kry. Sy beskryf dit as ’n ware uitdaging wat mens aanpak sonder dat jy voorbereid is daarop.  Maar sy geniet haar kosbare 6-jarige seuntjie terdeë en hou veral daarvan om ’n maaltyd met liefde vir haar seun en man Chris Wilkinson, oorspronklik van Nieu Seeland, te berei.

As stemkunstenaar, aktrise, seremoniemeester, televisie-aanbieder wat Afrikaans-, Engels-, Duits- en Frans magtig is kan luisteraars daarma uitsien om Eloïse voortaan daagliks te leer ken as radio-omroeper. ’n Rol wat ’n bymekaarkomplek is van al die vorige rolle wat sy op televisie en die verhoog vertolk het.

*Intussen begin op 8 Mei 2023 en sal weeksdae tussen 9:00 en 12:00 op RSG uitgesaai word.

 

Luister só na RSG as senders sukkel

Radio Sonder Grense (RSG) saai uit op 100-104 FM. Indien jy sukkel met die RSG sein op jou radio kan jy een van die volgende opsies probeer.

  • Luister aanlyn op www.rsg.co.za
  • DSTV Audio kanaal 813
  • Opeview kanaal 615
  • Luister op ons mobiele toepassing – soek SABC News
  • Wanneer jy iets gemis het, vind die potgooi by www.rsg.co.za