Die wenners van die RSG/Elizabeth Galloway Academy of Fashion is pas bekend gemaak. Dié modehuis gaan hierdie jaar saam met Lucinda Swarts en Jayden Blockland die twee werk om hulle droompak en -rok te ontwerp en te maak. Die opwindende proses om idees uit te ruil, die ontwerpe saam te stel en natuurlik die vervaardiging van die uitrustings begin nou.
Die Elizabeth Galloway Academy of Fashion gaan hierdie jaar saam met die twee wenners werk om hulle droompak en -rok te ontwerp en te maak. “Die deelnemers se stories het ons harte gesteel—ons móés eenvoudig die projek weer loods,” verklap Amoré Swanepoel, RSG se Bemarkingsbestuurder. Ons het vanjaar 57 benoemings ontvang, waaruit twee ontvangers gekies is. Albei leerders se matriekafskeide vind in Desember plaas. Naas jou troudag is jou matriekafskeid een van die grootste glinstergeleenthede van jou leeftyd. Dit is ‘n sprokiesaand wat nog lank onthou gaan word.
Lucinda Swarts is ’n 19-jarige matriekleerder van Eersterust in Pretoria. Sy is deur haar enkelma grootgemaak en het van kleins af finansiële uitdagings ervaar.
Lucinda droom daarvan om ná skool by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te sluit. Sy het selfs oorweeg om haar matriekafskeid prys te gee sodat sy die geld vir haar bestuurderslisensie kan gebruik – iets wat sy glo haar sal help om haar droom om ’n polisiebeampte te word, te bereik.

Ten spyte van die uitdagings wat sy ervaar het, is Lucinda ’n hardwerkende en vasberade jong vrou. Sy glo dat dit nie saak maak waar jy vandaan kom nie, maar waarheen jy op pad is.
Vir Lucinda sal hierdie geleentheid oor baie meer as net ’n pragtige rok gaan. Dit sal haar die kans gee om haar matriekafskeid saam met haar klasmaats te vier en haar skoolloopbaan met trots af te sluit.
Jayden Blockland is ’n matriekleerder van Eldorado Park wat reeds op ’n jong ouderdom groot uitdagings moes hanteer. ’n Paar jaar gelede is sy pa oorlede. Sy ma is tans werkloos en die gesin ervaar finansiële uitdagings.
Ten spyte hiervan bly Jayden positief, hardwerkend en vasberade om ’n beter toekoms vir homself te bou.
Jayden hou daarvan om met sy hande te werk en het ’n besondere belangstelling in praktiese werk. Sy pa was ’n elektrisiën en Jayden het ook ’n liefde vir die ambagte ontwikkel. Hy help graag met dinge soos herstelwerk, sweiswerk, plaveisel en ander praktiese projekte. Ná matriek hoop hy om ’n vakleerlingskap te kry en ’n loopbaan in ’n ambag te volg.

Jayden het ook al die geleentheid gehad om as model vir ’n plaaslike modeontwerper op te tree, wat sy selfvertroue ’n groot hupstoot gegee het.
Hy is ’n respekvolle jongman wat altyd bereid is om te help. Vir Jayden sal hierdie geleentheid baie meer as net ’n nuwe pak beteken. Dit sal hom die kans gee om sy matriekafskeid met trots en selfvertroue te vier en sy skoolloopbaan op ’n spesiale manier af te sluit.
In 2025 het RSG die drome van die matriekleerders Joanie Voss en Joshua Milton bewaarheid met ‘n rok en pak wat ontwerp en gemaak is deur Elizabeth Galloway Academy of Fashion. ‘n Spesialisfotograaf het dié aand vir ewig op film vasgevang en RSG se Fran-Rico Lucas en Blaine Jones was daar om verdere glans aan dié geleentheid te verleen. Vanjaar wil RSG weer twee jongmense se matriekafskeid-aande ‘n onvergeetlike een maak!
Elizabeth Galloway Academy of Fashion is in 1996 deur Elizabeth gestig met die doel om jong vroue op te lei en sodoende te bemagtig.
Die etos van die Akademie is om Suid-Afrikaanse jeug in mode op te voed, ondersteuning aan hulle te bied en sodoende hul sukses in die bedryf te verseker.
Volgens Fiona Abdo, direkteur van die Akademie by Elizabeth Galloway, is mode ‘n wonderlike manier van kreatiewe kommunikasie en selfuitdrukking. Daarom het die Akademie begrip vir hoe belangrik ‘n matriekafskeid in die lewens van leerders is. Dit bied aan hulle, die geleentheid om hulself deur mode en stilering uit te druk. Die Elizabeth Galloway-span is bevoorreg en opgewonde om saam met RSG en die kompetisiewenners te werk om hul droom te verwesenlik.