Jurassic World Dominion

Jurassic World Dominion

Oordrewe. Uitermatig lawaaierig en 2½ ure se foltering waar mense gil, hardloop en hordes aanvalle deur oerdiere oorleef… sonder ‘n skrapie. Ook ‘n lawwe oordramatisering. Dis die vinnigste manier om JURASSIC WORLD DOMINION te beskryf. Dis só oordrewe dat jy wonder op hoeveel maniere mense kan gil, en of hulle aan oefenkamp (bootcamp) moes deelneem om so baie te hardloop, en boonop toneel te speel.

Vier jaar nadat die dinosourusse se eiland vernietig is, voer ‘n despoot ‘n veldtog om die ekologie van die planeet deur middel van reuse giftige mensvreter sprinkane te versteur sodat hy die wêreld kan oorneem. Daar is egter tien karakters, baie uit die eerste JURASSIC PARK, om sy planne te kelder.

JURASSIC WORLD DOMINION mag jonges, wat vir die eerste keer met die oerdiere kennis maak, fassineer. Hulle mag dalk nie voel dat dit 2½ uur te lank is nie, maar deurwinterde dinosourus-bewonderaars se geduld mag opraak. Besluit self in watter kamp jy val.