15:00 - 15:05

Nuus

Nou op die lug: 15:05 - 17:45

Spitstyd

Met Willem Pelser

Willem Pelser

Volgende: 17:45 - 18:00

Brandpunt

18:00 - 18:10

Nuus & Weer

Tuis | Nuus

Nuus

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.

Die Hooggeregshof in Durban het ‘n 59-jarige man vyf keer lewenslange tronkstraf opgelê, vir die moord op sy vrou en drie kinders. Kista Chetty is skuldig bevind op vyf aanklagte van moord, ses van poging tot moord asook op ‘n aanklag van brandstigting. Hy het in 2021 sy huis in Phoenix aan die brand gesteek, ná ‘n argument met sy vrou en swaer. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Natasha Ramkissoon-Kara, sê hy is op 31 Oktober, na die rusie, van die huis af weggejaag. Chetty het egter die volgende dag teruggekeer, petrol in die huis oor die vloer gegooi en dit aan die brand gesteek. Sy vrou Elisha, drie van die egpaar se kinders en ‘n familielid se kind is dood in die brand. Hy is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Die polisie het 33 vermeende slagoffers van mensehandel gered nadat hulle in ‘n beknopte kamer in Benoni in Gauteng aangetref is. Een verdagte is in hegtenis geneem tydens ‘n klopjag op die perseel. Die polisie sê in ‘n verklaring speurders van KwaZulu-Natal het ‘n sindikaat wat vermoedelik by mensehandel betrokke is ondersoek, nadat ‘n buitelander verlede week in Springfield Park in Durban ontvoer is. Dié ondersoek het die polisie se spesialis-eenhede gelei na ‘n huis in Benoni waar 33 slagoffers — almal mans — in ‘n vertrek gevind is.

President Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika het dit by die COP28 klimaatsberaad in Dubai duidelik gemaak dat die land midde in ‘n energiekrisis is, en dat die pas van ‘n billike oorgang na skoner energie daarom gelei sal word deur die land se ontwikkelingsdoelwitte. Hy sê Suid-Afrika se strategie vir ‘n billike energie-oorgang maak dit duidelik dat die land doeltreffend teen klimaatsverandering kan optree terwyl energiesekerheid vir alle Suid-Afrikaners, steeds nagestreef word. Volgens Ramaphosa het hy egter by die beraad kommer uitgespreek dat ontwikkelde ekonomieë steeds nie hulle verpligtinge teenoor ontwikkelende lande nakom nie. Hy sê ontwikkelende lande het hulp nodig met finansiering, tegnologie en die bou van kapasiteit om teen klimaatsverandering te kan optree. Ramaphosa sê die tot standkoming van ‘n fonds om kwesbare lande te help met verliese en skade weens klimaatsverandering, is ‘n stap in die regte rigting. Hy sê beduidende befondsing is egter nog nodig om doelwitte te bereik.

‘n Onlangse verslag van die Wes-Kaapse regering toon dat daar tussen Januarie en Oktober vanjaar ‘n merkbare toename in toerisme in die provinsie was. Die provinsiale minister van Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê internasionale retoer-reisigers wat deur die buitelandse terminaal beweeg het, het met 57-persent toegeneem. Dié syfer is hoër as die syfers voor die Covid-19 pandemie. Wegner sê plaaslike retoervlugte na die stad het met 15 toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk in 2022. Sy sê toerisme stimuleer ekonomiese groei en werkskepping.

‘n Uitbreking van voëlgriep is in België aangemeld. Die siekte het kop uitgesteek op ‘n pluimvee-plaas in Diksmuide, in die noordweste van die land. Dit is na aan die grens met Frankryk. Dit is die eerste voëlgriep uitbreking in België die jaar. Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid sê meer as 20-duisend stuks pluimvee is van kant gemaak. Voëlgriep wat die afgelope jare daartoe gelei het dat honderde miljoene voëls die afgelope jare van kant gemaak moes word, kom gewoonlik in die Europese winter en herfs voor. Die siekte is onlangs in naburige lande, insluitend Frankryk, Nederland en Duitsland aangemeld.

POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: