THE MOTORCYCLE DIARIES (DIARIOS DE MOTOCICLETA)

Die beste fliek van die week… maar NET as jy jou rolprente ernstig opneem, is THE MOTORCYCLE DIARIES wat ‘n Oscar gewen het vir beste oorspronklike liedjie. Dit kyk na twee jong studente in Suid-Amerika, o.a. ‘n jong CHE GUEVARA. Hulle onderneem ‘n motorfiets-reis deur Suid-Amerika en sien eerstehands hoe arm die mense is en hoe swaar hulle kry. Guevara besef dat iemand ‘n stem aan die armes moet gee en die stem van die revolusie praat HARD in sy hart. THE MOTORCYCLE DIARIES het iets van ‘n dokumentêr in hom. Alhoewel die gebeure gedramatiseer is en die reis op die waarheid gegrond is, hou die regisseur, Walter Salles, hom besig met sosiale en politieke kommentaar. Dit gaan nié net om twee aantreklike ouens wat die wêreld sien en verlief raak op donkerkop, sexy meisies nie, maar ook oor ‘n volk wat na ‘n identiteit en verlossing uit armoede soek. Dus: daar gebeur meer in die SUBTEKS as in die STORIE. Dis nie konvensionele vermaak nie. GAEL GARCIA BERNAL, tans in BAD EDUCATION te sien, en Rodrigo de la Serna se spel is knap. Want alhoewel hulle van mekaar verskil as manne, roer ‘n politieke gewete in albei. Verby is die sorgvrye lewe van meisies en motorfiets-jaagtogte. Hulle word aangegryp deur omstandighede, veral as hulle in ‘n melaatse kolonie beland. THE MOTORCYCLE DIARIES, in Spaans met Engelse byskrifte, is ‘n moet as jy jou rolprente ernstig opneem.