ICE PRINCESS

THE ICE PRINCESS… Dink bietjie oor daardie titel. Jy kan daarvan aflei dat dit vir tienermeisies gemaak is of vir leerders in die skool wat glo aan die ridder op die wit perd wat hulle van hul voete gaan afswiep… die perd sal egter net moet oppas dat hy nie gly nie… want die ys is maar GLAD in THE ICE PRINCESS. En baie mense val kaplaks op hul boude.

Dis die gewone Aspoestertjie-storie en lyk my hoe meer mens vir jongmense Aspoestertjie-hoop gee, hoe meer geld spandeer hulle op so ‘n fliek. ‘n Pragtige jong meisie… hulle is ALTYD beeldskoon in dié soort rolprente… wil graag ‘n ys- of figuurskaatser word. Natuurlik is haar ma, Joan Cusack, daarteen gekant. Wat sou ‘n romantiese tienerfliek wees sonder ‘n nare ma? Dan is daar die bitsige meisie wat ‘n kampioen-ysskaatser is… en ons heldin wil haar graag naboots. Maar wag, waar is die volgende stereotipe in tienerflieks?

‘n Na-ywerige en katterige ma, niemand minder nie as Kim Catrall van Sex and the city-faam hou nie van die aandag wat ons heldin aan haar dogter gee nie. En nog beter: sy was self ‘n kampioen ysskaatser op haar dae en nou’s daar bietjie jaloesie. Kom ek stel dit so. Jy weet PRESIES wat jy gaan kry as jy na THE ICE PRINCESS gaan kyk. Dis super-romanties, beeldskoon om na te kyk en hoogs voorspelbaar. Dis wat ek noem die hamburger-sindroom. Die fliek herinner aan ‘n hamburger. Gemorskos-vermaak vir die massas… dit sal heerlik afgaan met springmielies en koeldrank en jou ma langs jou as jy ‘n tienermeisie is. THE ICE PRINCESS is eintlik ‘n videofliek, maar as jy net R12 daarvoor hoef te betaal, waarom nie?