RED DUST

Dan begin ‘n politieke drama ook vandag met die naam RED DUST. Oscar-wenner Hilary Swank speel die hoofrol. Toe Monitor in die pragtige Graaff-Reinet was… ‘n dorp waarop ek heeltemal verlief geraak het, het almal oor RED DUST gepraat, want die fliek is daar geskiet. Ek moet erken dat die dorp en die omgewing raak in RED DUST saamgevat is. Die Karoo het laas so mooi op die silwerdoek gelyk in PALJAS.

Die storie is egter taai… en almal wat sê: Ek is moeg om na rolprente te kyk oor die apartheidsverlede en wat kla oor politiekery, moet liewer wegbly, want RED DUST loop dieselfde paadjie, alhoewel die rolprent werklik goed is. Dit gaan oor ‘n ANC-aktivis wat jare gelede deur die Veiligheidspolisie ondervra en gemartel is. Gedurende die Waarheids- en Versoenings-kommissie op die platteland weier die aktivis om die polisieman te vergewe wat hom ondervra het. ‘n Eks Suid-Afrikaner, nou ‘n menseregte-prokureur in Amerika, gespeel deur Hilary Swank, kom Suid-Afrika toe om hom te verdedig. Maar sy ontdek meer as waarop sy voorbereid was.

Die tema is ontstellend, die karakters sterk geteken en Jamie Bartlett se spel as die polisieman is van die beste wat ek nog gesien het. Spelgewys en wat die draaiboek betref, krap RED DUST ou wonde oop. Jy moet maar self besluit of jy weer ‘n rolprent oor ons politiek wil sien.