Angeliena

Angeliena

Omdat ‘n mens deesdae maar sku is vir komedies, het ek langtand na ‘n Suid-Afrikaanse produksie op Netflix gaan kyk. En ons sien selde plaaslike flieks op daardie stromingskanaal, maar ANGELIENA verower harte sover sy parkeerplekke aanwys met haar snaakse hare en uittand-glimlaggie.

Hierdie vrou se werk word na 17 jaar vervang met ‘n parkeermasjien waar jy kaartjies betaal, en boonop is sy siek. Niks snaaks daaraan nie, dink jy seker. Maar die manier waarop die plaaslike regisseur Uga Carlini na haar menslikheid, haar weerloosheid, en haar hartseer glimlag kyk, sal jou gou aan haar kant skaar. Angeliena besef dit help nie om te huil as die lewe jou onder jou sitvlak skop nie. Jy moet die beste daarvan maak en moedeloosheid in lewe omskep.

As jy na ‘n plaaslike komedie wil kyk sonder vuil grappe of kaal boude, is ANGELIENA vir jou. Dit kyk na die probleem van werkloosheid en probleme as jy skaars ‘n heenkome het, op ‘n deerniswekkende, lig-komiese manier en mag jou inspireer.