ANACONDAS: THE HUNT FOR THE BLOOD ORCHID

Nie vreeslik baie mense het sy voorganger gesien nie, en ek twyfel of mense mekaar gaan vertrap vir die vervolg. Hierdie soort flieks neem gewoonlik ‘n gewone dier of reptiel wat in ‘n monster ontaard, en skep ‘n paar karakters wat deur hom opgevreet word met net een wel-bedeelde meisie wat dit oorleef. Gaan die resep weer herhaal word? Dalk sal jy verkies om te wag tot ANACONDAS: THE HUNT FOR THE BLOOD ORCHID op DVD is. Maar as jy wel besluit om te gaan kyk: dis eintlik vir tiener-laities wat dink slange is die nuwe in-speelding.

Maar as jy sien wat Hollywood met ‘n luislang maak, sal jy in die paadjies tussen die poppende taai springmielies rondrol van die lag. Jy sal beslis nie jou bene vervaard lig en op jou fliekstoel wegkruip vir die monster onder jou stoel nie. As jy lekker wil lag en jou pel in die sy pomp met: “hei ou! Simpel slang, stjoepit fliek, mooi meisie,” is ANACONDAS: THE HUNT FOR THE BLACK ORCHID vir jou. Anders is daar baie ander flieks om van te kies… maar ek sal nie R35 hiervoor betaal nie.