ARE WE THERE YET?

Ek probeer altyd om te oordeel vir watter GEHOOR ‘n rolprent geskik is. Maar slaan my met ‘n nat vis om. Ek het GEEN idee wie van ARE WE THERE YET gaan hou nie. Vir my was dit dit mees onuitstaanbare en pynigende ervaring van die jaar. ICE CUBE speel die rol van ‘n naïewe bleeksiel wat verlief raak op ‘n geskeide vrou. Sy het 2 kinders uit die verste hoekie van die hel wat sy lewe onhoudbaar maak. Julle weet hoe verwaand Amerikaanse tieners kan wees. Wel: ARE WE THERE YET se terroriste laat die ergste skoolboelie na Julie Andrews lyk. Die situasies is skreeuend oordrewe en volwassenes word soos skuim deur onuitstaanbare kinders behandel. Ek sou jou AFRAAI van ARE WE THERE YET? Die lewe is moeilik genoeg. Mens wil dit nie nog in die fliek VERERGER nie!