Baby Reindeer (Reeks)

Baby Reindeer (Reeks)

Jy mag nie BABY REINDEER op Netflix ignoreer nie. Hierdie skokreeks het die hele wêreld aan die praat. Jy moet dit sien om te glo. En weer eens, daardie sin wat ‘n reeks so maklik aan nuuskieriges verkoop – “jy word gewaarsku dat dit uiters en ook emosioneel afgryslik skokkend is”, geld hier ook. Pas op!

Dis die ware verhaal van ‘n komediant wat deur ‘n agtervolger of stalker geteister word. Sy fokus op hom, en vir jare terroriseer en agtervolg sy hom, mislei en misbruik hom, tart hom, beledig hom en dryf hom feitlik na vernietiging. Maar die ergste is, die bleeksiel laat toe dat sy dit doen! Hy aanvaar die marteling. Maar nog erger – hy laat toe dat ‘n mentor hom kamtig leer hoe om ‘n goeie komediant te wees, en word dan ook fisiek, deur hom misbruik. Wie is Donny, gespeel deur die man met wie dit werklik gebeur het (Richard Gadd), en hoekom is hy so ‘n papperd? Wat kan hy nog doen om verneder te word?

Jy sal verbysterd kyk na wat voor jou afspeel terwyl Donny verneder en gemartel word, en hy dit toelaat. Maar wag tot jy sien hoe die storie eindig! Al sewe episodes van BABY REINDEER sal jou vir dae laat praat en aan debatte laat deelneem. Dit waarsku: Moenie mense probeer bevredig of ‘n lamsak wees nie. Jy sal ‘n duur prys betaal. BABY REINDEER onthuts.