BAD EDUCATION (LA MALA EDUCACIÓN)

BAD EDUCATION van Pedro Almodovar gaan mense liederlik die harnas injaag en uit hul klere skok. Ek sien nou al die e-posse opdaag wat kla oor taalgebruik en seksuele situasies en gewaagde tonele. Weet dus: BAD EDUCATION gaan jou skok. MOENIE gaan kyk as jy maklik omgekrap raak deur skoktonele nie. Dit gaan oor ‘n jong man, Gael Garcia Bernal, wat eendag by ‘n rolprentmaker opdaag. Hulle was saam op skool. Bernal is as seun gruwelik deur Katolieke priesters seksueel aangerand en hy het ‘n draaiboek oor sy ervarings geskryf. Maar daar is ander probleme wat dié skokstorie kompliseer. BAD EDUCATION het hare laat regop staan waar dit ookal gewys het. Dit val die Katolieke kerk direk aan, daar is eksplisiete gay sekstonele en omtrent geen taboe wat NIE aangeraak word nie. Die skokkende BAD EDUCATION net as jy heeltemal oopkop fliek en graag debatteer oor ‘n fliek wat sy onderwerp kaalhand aandurf.