BREAKFAST ON PLUTO

As jy die naam BREAKFAST ON PLUTO hoor, verwag jy beslis nie dat Mary Poppins iewers in hierdie feeverhaal gaan oppop nie. Dis ‘n rare, delikate en bizarre rolprent oor ‘n transvestiet wat na sy pa soek. Cillian Murphy speel die eksentrieke rol van die outjie wat eintlik ‘n vrou is, en wat as baba op die stoep van die priester, Liam Neeson, beland. Sy reis na die ontdekking van sy herkoms sal mense omkrap, want dis nie ‘n gehoor-vriendelike reis nie. Dink dus BAIE MOOI voordat jy ‘n kaartjie koop.

Ek het gedink dis ‘n rare, maar sjarmante kykie na die disfunksionele lewe van ‘n karakter wat nêrens in die lewe inpas nie. Kitten, soos hy homself noem, is egter doodonskuldig en word vieslik deur die gemeenskap misbruik en mishandel. Maar hy is vasberade om bo uit te kom. BREAKFAST ON PLUTO deur Neil Jordan is absoluut net op kunsfoendies gerig wat dit inspirerend en aangrypend mag vind. Maar dis nie ligte vermaak nie.