BRIDE AND PREJUDICE

Julle moet koes… want die grotes duik van vandag af soos pirannas op ons af én hul gierige oë is op jou beursie gerig. Ja, dis daardie tyd van die jaar. Die geleerdes noem dit: die silly-season, en meeste flieks is stuitig: soos BRIDE AND PREJUDICE. Nee, ek sê nie die naam van die Jane Austen-roman verkeerd nie… Gurinder Chadha het ‘n guitige, kamp Indiese weergawe van Pride and Predjudice gemaak. Maar onthou: BRIDE AND PREJUDICE is ‘n aangeleerde smaak.

Mense wat nie aanklank vind by die Indiese kultuur nie moet weet: BRIDE AND PREJUDICE probeer alle gehore betrek en bevredig. Daar is dus Westerse karakters en ‘n sterk Westerse storielyn, alhoewel Indiese luisteraars net soveel plesier sal kry. Dit gaan oor ‘n ma wat haar 5 ongetroude dogters in wit sluiers voor die preekstoel wil sien. Maar die koppigste een gee die meeste probleme.

BRIDE AND PREJUDICE is ‘n musiekblyspel. Dus bars karakters onverwags in verwoede sang los en dans guitig met swaaiende heupe as die liefde hulle inspireer of teleurstel. BRIDE AND PREJUDICE kry 6 uit 10. Ek sou ‘n kans waag, maar onthou, dis sentimenteel en kunsmatig.