BROKEBACK MOUNTAIN

Die groot Oscar-wenner wat vandag begin, is BROKEBACK MOUNTAIN. Nou weet ek wat baie mense sê. Is dit nie daai gay cowboy-fliek nie? Wel, nie heeltemal nie. Ek dink nie mens moet so vinnig stereotipeer nie. Want as ‘n mens SO daarna kyk, het ‘n goeie fliek reeds sy gehoor verloor. Dit gaan oor baie meer as twee cowboys in die jare 60 wat op mekaar verlief raak. En dit is glad nie so vulgêr of snaaks soos dit klink nie. Dit gaan eintlik oor liefde, oor selfsug, oor iemand wat weier om homself te aanvaar soos hy is en wat verskeie mense se lewens in die proses vernietig, insluitende sy vrou en kinders s’n.

BROKEBACK MOUNTAIN het al talle pryse gewen. En enigiemand wat in draaiboekskryf belangstel, moet gaan kyk. Hierdie ekonomiese en gestroopte draaiboek het al verskeie pryse gewen en met reg. Jake Gyllenhaal en Heath Ledger vertolk die rolle van twee cowboys wat skape oppas in die asemrowende mooi Rockies in Noord-Amerika. Dan besef hulle, teen hul eie beterwete en wat die gemeenskap voorskryf, dat hulle aangetrokke is tot mekaar. Maar dit is veral die Heath Ledger-karakter wat sy eie identiteit nie kan hanteer en verwerk nie.

Die oorweldigende mooi landskap weerspieël die ruheid van die verhouding en die rowwe invloed wat die twee manne op mekaar het. Maar dit weerspieël ook die feit dat hulle oorweldig word deur wat met hulle gebeur. Hulle is dus onbevoeg om dit te hanteer of verwerk.

BROKEBACK MOUNTAIN is beslis een van die groot rolprente van ons tyd, wat soos American Beauty, ‘n rateltaai onderwerp neem en dit met sensitiwiteit, insig en goeie smaak SONDER vooroordeel of eksploitasie na die silwerdoek verplaas. Daar is mense wat nie daarvan sal hou nie of wat dalk vooraf besluit hulle wil nie ‘n fliek oor die onderwerp sien nie. Maar weet net: BROKEBACK MOUNTAIN is briljant.