Bullet Train

Bullet Train

Brad Pitt skiet soos ‘n besete koeël uit ‘n geweer in hierdie koorsige aksie-komedie. Daar is meer aksie as wat daar slaggate op ons paaie is, tonne energie wat ons land vir ‘n dekade van elektrisiteit kan voorsien, manne wat moor en doodslaan, supergevegte wat aanhou en aanhou, en een van Japan se berugte, snelbewegende Bullet-treine wat soos ‘n meteoor oor die doek gly.

Brad Pitt speel die rol van ‘n voormalige sluipskutter. Hy word gehuur om ‘n aktetas met iets belangriks van ‘n trein vanaf Tokio te steel. Hy vind troos vir sy gefolterde gemoed in die aantal moorde wat hy pleeg. Maar sonder dat hy weet, is daar nóg ‘n klomp sluipskutters op die trein. Doodmaak is vir hulle ‘n gewoonte. Dus kom onse Brad ook in hulle visier. Daar is ‘n skoolmeisie, of so lyk sy, op die trein is. Wat maak sy daar?

Dit raak later so oordadig dat jy oorversadig raak, want mense baklei en skiet mekaar vir 2 ure lank. Gehore mag gek wees oor BULLET TRAIN se aweregse humor, Brad Pitt, die donker kwinkslae, verrassings… soos supersterre wat kamee-verskynings maak… en, nou ja, ‘n boomslang. BULLET TRAIN met ‘n streng beperking van niemand onder 16 as gevolg van taal en geweld, bevat supersoniese aksie, bloedvergieting, skuins grappe en oordadige gevegte. Dis in die kol vir aksievrate, maar nie as jy na iets vir die breinselle soek nie.