CAMP

CAMP is die ongelukkige titel vir ‘n lawwe tienerfliek wat ook vandag begin. En dié “camp” het niks met maniërismes te doen nie. Dit gaan oor tieners wat na ‘n somerkamp gaan. Dié lotjie wil eendag sterre word, en op die kamp kan hulle uiting aan meer as hul sangtalent gee… wees dus bewus dat daar ook seksuele situasies. Want waar ‘n klomp Amerikaanse tieners saamkoek, huppel die hormone in segmente.

Ek hoor jou sê: “Ek het nou net deur Project Fame gesit. Wil ek regtig weer mooi gesiggies sien wat uit volle bors tranetrekkers uitbasuin?” Wel, dis vir jou om te besluit. Tog was daar mense wat wél van FAME gehou het. Dalk nie net oor die musiek nie, maar ook oor die mooi mense. Julle mag CAMP in die kol vind. Ek het gedink dis ‘n liggewig eina- storie. Net ‘n verskoning vir mooi mense om te sing en dans met irriteren-de karakters en ‘n storie skrapser as Nicole Kidman se dieet. CAMP, net as jy jonk van gees is en jy dink roem is koel. Niemand onder 13.