Catch Me a Killer (Reeks)

Catch Me a Killer (Reeks)

Ons het darem goeie regisseurs as ‘n mens kyk na die knap werk wat Brett Michael Innes, René van Rooyen en Tracey Larcombe doen in CATCH ME A KILLER. Dit is gebaseer op die profileerder, Micki Pistorius, se gelyknamige boek, en wys hoe sy vreesloos in berugte Suid-Afrikaanse moordenaars soos die stasiemoordenaar en Boetie Boer se koppe ingekom het om hulle vas te trek. Ook watter invloed dit op haar as mens gehad het.

Hierdie hardekwas-reeks beeld die lewens en moorde van gruwelmoordenaars sonder sensasie of verglansing uit. Dit is strak en sonder uitrekking of gehoorvriendelike tegnieke gemaak.

As jy Micki Pistorius se modus operandi wil bekyk en van die reeksmoordenaar-sake wil onthou, kyk na CATCH ME A KILLER op Showmax. Dit wys wat gebeur het in sake soos die Cleveland-moordenaar, die ABC-moordenaar, die Donnybrooke-saak en ‘n topepisode waarin Albert Pretorius manjifieke spel lewer as Steward Wilken, oftewel Boetie Boer.