CINDERELLA MAN

Een van die heel beste rolprente van 2005. Julle weet hoe gekant is ek teen daardie stelling, want sing ‘n resensent oor “die beste rolprent van die jaar” is dit selde so goed soos hulle sê en julle voel dadelik agterdogtig daaroor. As ‘n resensent daarvan hou, is dit seker weer hoghere kuns wat in vreemde tale spreek. Maar wag. Dalk moet jy self probeer en kyk wat jy van CINDERELLA MAN dink. Dis ‘n boksrolprent met ‘n verskil. “O, die geweld!” hoor ek baie mense sê. Of: “Kan dit beter wees as RAGING BULL of die klassieke Rocky-reeks of Million Dollar Baby?” Glo my, niks kan beter wees as RAGING BULL nie. Maar CINDERELLA MAN kom BAIE naby daaraan en die geweld vind nie net in die kryt plaas nie. Dit gaan ook oor ‘n man wat deur die lewe rondgefoeter word. Dis ‘n boksprent met emosie oor liefde, respek en eerbaarheid. So dikwels word boksers uitgebeeld as geweldenaars wat net boks om geld te maak. Maar CINDERELLA MAN is op die waarheid gegrond, en gaan oor ‘n man wat moes boks om liggaam en siel aanmekaar te hou en om sy selfrespek terug te kry en die Amerikaanse Droom te verwesenlik. Jim Braddock moes nie net teen gedugte opponente in die bokskryt soos Max Baer kompeteer nie, maar ook teen armoede en die Groot Depressie in die jare 30. Hy soebat letterlik om sy bokshandskoene terug te kry, want hy moet vir sy vrou en kinders sorg. Ron Howard kon hierdie storie soos ‘n Patience Strong-gedig laat klink het. Vol soetsappigheid en purple prose. Maar hy handhaaf nét die regte balans tussen melodrama en emosie. Sy regie is so fyn beplan, dat CINDERELLA MAN ‘n mens aangryp of jy van sportflieks hou of nie. En selfs al draai jy kop weg as die houe op ‘n bokser neerreën, behoort CINDERELLA MAN jou aan te gryp. RUSSELL CROWE sal moontlik weer ‘n Oscarnominasie kry want hy maak Jim beide eerbaar en emosioneel, simpatiek en manmoedig, terwyl René Zellweger al haar vorige vertolkings oortref as sy vrou.