COLLATERAL

As ek sê Tom Cruise dink julle seker: wyedoekglimlag, blink oë wat sê: “kyk hoe mooi is ek” en ‘n hemp wat elke paar sekondes waai? Jy’s verkeerd! Want Cruise het die Lotto gewen in COLLATERAL. Dis gemaak deur Michael Mann van TO LIVE AND DIE IN L.A., The Insider en ALI-faam. Mann is DIE regisseur in Hollywood, dis hoekom die Cruiser ingestem het om ‘n moordenaar vir hom te speel. En boonop is Tommie grys en dra heeltyd ‘n pak. Hy’s ‘n ontwerper-moordenaar.

COLLATERAL is ‘n naelbyt riller oor ‘n sluipskutter wat ‘n taxi-bestuurder, Jamie Foxx, se huurmotor kaap en hom dwing om hom van moord na moord te neem. Moenie ‘n vinnig-vorentoe-fliek verwag nie. Dit beteken: ‘n rolprent waar sewentien dinge elke minuut gebeur en jy nie kan asem skep nie. COLLATERAL beweeg stadiger, ontgin sy storie ordentlik en hou hom veral besig met STYL. Los Angeles het nog nooit so boos en bedreigend en verleidelik gelyk as in dié fliek nie.

Dis 2 uur lank, en as aksie losbars, is dit in die oortreffende trap. Dis ‘n hipnotiserende fliek wat ouens wat videospeletjie-flieks ondersteun sal verveel. Hoekom? Dit waag om te karakteriseer. Maar as jy jouself beskou as die denkende man of vrou se aksie-aanhanger, dan is COLLATERAL in die kol met 8 uit 10. Vir my die fliek van die week.