Deadwind (Reeks / Netflix)

Deadwind (Reeks / Netflix)

DEADWIND klink dalk nie na ‘n titel wat ‘n orkaan deur jou verbeelding sal stuur nie, maar dié Netflix-reeks gaan oor ‘n lyk wat op ‘n strand ontdek word. ‘n Behuisingskompleks word daar naby opgerig. Het die vrou dalk op ‘n geheim afgekom? Is daar korrupsie? Wat het gebeur? Maar nog vreemder: windkrag word ingespan om krag op die voorgenome dorpie op te wek. Hou dit dalk verband met haar geheimsinnige moord?

Wat verblydend is aan so baie reekse, veral deesdae op platforms soos Netflix, is dat ons bietjie asemskep-kans van lipstiek-besmeerde Amerikaanse reekse kry. DEADWIND is ‘n Finse reeks met byskrifte, dus sal mense, wat van die sogenaamde Noorse New Noir hou, hulle kan verlustig in donker onheilstonele vol verrassings en gruwels, en natuurlik kinkels. Is jy bang vir byskrifte? Nou ja. Dan weet jy. Wie het die moord of moorde gepleeg? DEADWIND mag jou verras. Jy moet die grys breinselletjies aanskakel en wakker sit, maar dalk sal jy die skuldige of skuldiges identifiseer.