Death on the Nile

Death on the Nile

Ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n rolprent soveel geniet het as DEATH ON THE NILE nie. Dit is skouspelagtig verfilm, elk van die groep bekendes wat die verdagtes speel kon die moord gepleeg het. Die kostuums is luuks en formeel, en die storie so lekker soos ‘n toffie-appel. As daar iemand was wat whodunits kon skryf, was dit die geniale, waardige ou dame. Hoe Agatha Christie saam met haar speurder, Hercule Poirot, die moorde ontrafel, is deel van die plesier.

Almal wat spog dat hulle in g’n jare in ‘n fliekteater was nie omdat hulle grotdiere geword het, die gevangene van televisie en stroming, móét na DEATH ON THE NILE op die silwerdoek gaan kyk. Jy doen die film ‘n onreg aan deur hierdie skouspel op ‘n klein skerm te kyk. Dit is uitspattig, groots, kleurvol en fenomenaal vermaaklik. Net die lugskote van die Nyl wat deur die woestyn vloei met die luukse boot op die water, is die prys van ‘n kaartjie werd.

Genoeg gejuig. As daar een film is wat jy moet gaan kyk omdat dit jou van beurtkrag, slaggate en ander dinge sal laat vergeet, is dit DEATH ON THE NILE. Ek waarborg jou, jy sal nie die skuldige (of sou dit skuldiges wees?) identifiseer nie.