DEUCE BIGALOW: EUROPEAN GIGOLO

Vir sommige flieks vat jy snesies saam. Vir ander springmielies wat drup van die botter. Vir die volgende ramp moet jy maar toiletpapier gaan koop. Eintlik moet hulle dit gratis verskaf, want DEUCE BIGALOW: EURO-PEAN GIGOLO moet liefs weggespoel word. Dis een van die mees vulgêre, ‘common’, naarword-sonder-‘n-lugsakkie, walglike en moedswillige flieks nog. DEUCE BIGALOW: EUROPEAN GIGOLO neem platvloerse kruheid na nuwe laagtepunte en is so swak en verwoestend aards, dat net op ‘n speelgrond tuishoort waar ‘n klomp ouens bymekaarkom en die vuilste grap wat hulle nog ooit gehoor het met mekaar vergelyk.
Dit gaan oor ‘n manlike prostituut (Rob Schneiner) wat hom in Amsterdam bevind waar alle ander manlike prostitute of “prosti-dudes” wreedaardig vermoor word. Ongelukkig kry die moordenaar nie vir DEUCE BIGALOW in die hande nie, want hy word vir ‘n volle 100 minute toegelaat om met sy speelgoed in die drein te speel. Kyk, ek het al kommin en vulgêr in my lewe gesien, en vulgêr kan ook snaaks wees, dink aan MEET THE FOCKERS. Maar DEUCE BIGALOW se humor is so onaardslik vieslik, dat nie eers Sanpic en Vim die geurtjie sal neutraliseer nie.
Vir almal wat sê: as LEON ‘n fliek aanbeveel gaan kyk ons nié, maar as jy ‘n fliek uittrap, koop ons ‘n kaartjie. Selfs julle sal DEUCE BIGALOW ‘common’ en onuitstaanbaar vulgêr vind. Oppas net om langs die paadjie te sit, want die stormloop badkamer toe om te gaan naar word sal soos ‘n orkaan by jou verbytrek en jou haredos in sy glorie laat skeeftrek. Jy is gewaarsku. DEUCE BIGALOW: EUROPEAN GIGOLO neem platvloersheid na ‘n nuwe dimensie.