DIRTY DANCING – HAVANA NIGHTS

Ons sien flieks so ver vooruit, dat ek al vergeet het ek het hulle gesien teen die tyd dat hulle op die silwerdoek beland. ‘n Dansfliek wat al in Maart aan ons vertoon is, maar tot nou op die rak gelê het, is DIRTY DANCING – HAVANA NIGHTHS met Diego Luna van Y TU MAMA TAMBIEN in die hoofrol. Hy speel teenoor die pragtige Romola Garai. En as ‘n film so lank lê, wonder ‘n mens…

Dié wulpse heupswaaier speel af gedurende die Kubaanse Revolusie toe Fidel Castro aan bewind gekom het. ‘n Meisie wat deur haar ouers gepamperlang is en wat gedurende die revolusie in Havana is, raak verlief op ‘n loslit straatwys laitie. Sal sy hom agterlaat as die Amerikaners vir hul lewens moet vlug? Of is daar ‘n toekoms vir die twee verliefdes?

Ek was teleurgesteld in DIRTY DANCING – HAVANA NIGHTS. Dit het bitter min met die oorspronklike PATRICK SWAYZE-fliek te doen, al kom hy weer voor as ‘n dansintrukteur. Dis maar ‘n flou nabootsing van die oorspronklike met ‘n geforseerde storie en ‘n atmosfeer wat skraps is aan erotiek of dansritme. DIRTY DANCING – HAVANA NIGHTS kry 5 uit 10. Ek sou liewer weer na die eerste een op DVD kyk.